|

AfriForum se Kaapstad-Noord-tak belê in ’n selfstandige gemeenskap

AfriForum se Kaapstad-Noord-tak het op 11 September 2021 in samewerking met Jesus in Aksie (JiA) 20 vrugtebome by die Brackenfell-stasie geplant. Daar is op kultivars van die mees algemene soorte vrugte wat die meeste mense eet en wat ook in die area sal aard, besluit. Dit sluit verskillende kultivars appels, pere, pruime, nartjies, lemoene, nektariens en appelkose in.

“Dit is vir ons belangrik om nie net gemeenskappe te help nie, maar om hulle ook te bemagtig om hulself te help,” sê Tommy van Zyl, voorsitter van AfriForum se Kaapstad-Noord-tak.

“Om hierdie rede het ons juis die vrugtebome so gekies dat daar vir die grootste deel van die jaar vrugte sal wees. Hierdie was fase een van die projek en die vrugtebome wat ons gekies het se vrugte kan vanaf November tot Augustus die volgende jaar geoes word. Tydens die volgende fase van die projek gaan ons vrugtebome plant wat van September tot Oktober vrugte dra sodat daar heel jaar vrugte is,” sê Van Zyl verder.

“JiA is ’n organisasie sonder winsbejag wat sedert 2010 saam met verskeie organisasies, kerke, ondernemings en instansies werk om saam ’n verskil in die Brackenfell-gemeenskap te maak,” sê Ettienne Pio, voorsitter van JiA. 

“Die Ons Tuin-projek het einde 2020 ontstaan waar hawelose mense en vrywilligers sonder enige boerderykennis begin het om die grond by die Brackenfell-stasie te bewerk vir ’n groentetuin. Die hele gemeenskap het ingespring en daarom noem ons dit Ons Tuin, want dit behoort aan ons gemeenskap wat gereeld gehelp, gesels en kundigheid gedeel het,” sê Pio verder.

AfriForum se Kaapstad-Noord-tak was ook by die ontstaan van Ons Tuin betrokke en die tak het twee waterpompe en die basiese besproeiingstelsel aan JiA geskenk.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by soortgelyke projekte van die tak betrokke te raak en deel te word van ’n vooruitstrewende en groener toekoms. SMS “Kaapstad-Noord” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings