|

KwaZulu-Natal se vullisterreine ’n groot bron tot kommer

AfriForum het vanjaar 162 vullisterreine landwyd geoudit as deel van dié organisasie se nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in Suid-Afrika te meet.

Slegs een uit nege vullisterreine wat in KwaZulu-Natal geoudit is, het aan nasionale standaarde voldoen. Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis 59 van 2008, moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen.

Volgens Eugene van Aswegen, AfriForum se distrikskoördineerder vir KwaZulu-Natal, is bykans al die vullisterreine in KwaZulu-Natal in ’n haglike toestand. “Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan politici wat nie hierdie aspek in dienslwering as belangrik beskou nie.”

Van Aswegen sê die mees algemene probleme wat AfriForum tydens die oudit opgemerk het, is die afwesigheid van afvalbestuurslisensies en ’n algehele wanbestuur van terreine.

“Ons wil graag die uMhlathuze Plaaslike Munisipaliteit geluk wens met die behoorlike bestuur van die vullisterrein in Richardsbaai. Hierdie bestuur stel ’n voorbeeld vir baie munisipaliteite in Suid-Afrika van hoe ’n vullisterrein behoorlik bestuur kan word,” aldus Van Aswegen.

Munisipale verval is aan die orde van die dag en dit is ooglopend dat veral kleiner munisipaliteite onder grootskaalse wanbestuur gebuk gaan.

AfriForum het in die laaste twee jaar by verskeie geleenthede met Barbara Creecy, minister van Bosbou, Visserye en Omgewingsake, en haar span vergader. Uit die vergaderings was dit duidelik dat daar onvoldoende kommunikasie bestaan tussen nasionale, provinsiale en plaaslike owerhede. Dit is ’n bewys daarvan dat samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) en die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewingsake nie met mekaar kommunikeer nie.

Soortgelyke plasings