| |

AFRIFORUM SE BLOEMHOF-BUURTWAG VIND GESTEELDE VOERTUIG TERUG

AfriForum se Bloemhof-buurtwag het onlangs die plaaslike SAPD gehelp om ’n gesteelde voertuig terug te vind. Die buurtwag het op 23 Junie 2021 inligting ontvang dat ’n vermoedelik gesteelde voertuig in ’n onbekende persoon se erf in Bloemhof geberg word. Buurtwaglede het onder leiding van Albert Nel, die buurtwagleier, verdere ondersoek gaan ingestel en besluit om die SAPD se intelligensie-eenheid van die situasie in te lig.

Daarna het die buurtwag die plaaslike SAPD gehelp het om die onmiddellike omgewing te beveilig. Daar is beslag gelê op ’n silwer Fiat-sedanvoertuig, wat in Tlhabane in Rustenburg as gesteel aangemeld is. Verskeie uitstaande sake word teen die verdagte ondersoek.

“Bloemhof is ’n veiliger dorp vandat die buurtwag aktief begin optree het. Misdaad kan dus moeilik floreer hier. Met goeie verhoudinge wat met die plaaslike SAPD gehandhaaf word, is die Bloemhof-buurtwag ’n goed geoliede masjien waarmee misdadigers rekening moet hou,” sê Albert Nel, leier van die Bloemhof-buurtwag.

“AfriForum is trots op die toegewydheid en passie waarmee die Bloemhof-buurtwag die gemeenskap ondersteun en beveilig. Die buurtwag maak werklik ’n verskil in Bloemhof en is besig om dit ’n veilige gebied te maak waarin die gemeenskap kan leef en werk,” sê Gerhard Faber, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir Noordwes.

SMS “Veilig” na 45353 (R1) om by een van AfriForum se veiligheidstrukture betrokke te raak.

Soortgelyke plasings