|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

In ’n week waar AfriForum ’n nuwe tak in Oranje- en Deneysville gestig het, het die burgerregteorganisasie se privaatvervolgingseenheid ook ’n groot deurbraak in die Thandi Modise dieremishandelingsaak gemaak.

Die appèl teen landdros Ben Mtebele se ontslagbevel ingevolge artikel 174 van die Strafproseswet van Thandi Modise sal op 21 Maart 2023 aangehoor word. Die eenheid tree namens die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) op, wat vir Modise, die minister van Verdediging, privaat vervolg op klagtes van dieremishandeling. Mtebele het Modise verlede jaar onskuldig bevind op ses klagtes wat voortspruit uit 2014 toe meer as 200 diere op haar plaas dood is.

Natasha Venter, adviseur by die privaatvervolgingseenheid

Dit het onder AfriForum se Upington-tak se aandag gekom dat riool in die Oranjerivier gestort word. Die tak het ’n brief aan die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit gerig en hulle vyf dae gegee om met ’n oplossing vorendag te kom alvorens regstappe kan volg. Duisende liters riool word al vir die afgelope paar jaar direk in die Oranjerivier gepomp om kostes te bespaar. Toetse het getoon dat die water in die rivier hoë vlakke van E. coli en fekale koliform bevat.

Die AfriForum-buurtwagte in Hartbeesfontein en Songloed in Klerksdorp het onderskeidelik met ’n groenteprojek en die vervanging van straatligte hul deel gedoen om hul dorpe te verbeter. Die groente word aan ’n plaaslike tehuis vir bejaardes geskenk. Die straatligte was al lankal ’n probleem en die herstel daarvan sal help om misdaad te bekamp. ’n Span van 12 werkers het ook sypaadjies in Klerksdorp skoongemaak as deel van dié tak se #OnsDorp-projek.

Ná die behoefte geïdentifiseer is, is ’n gesamentlike AfriForum-tak vir Oranje- en Deneysville gestig. Elke dorp sal sy eie buurtwag hê. Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir Mooirivier, sê al haar verwagtings is oortref met sowat 80 mense wat die vergadering bygewoon het.

AfriForum Jeug het afgestudeerdes wat nog nie vir hul Zuma-jaar in 2023 geplaas is nie, genooi om die jeugorganisasie te nader. AfriForum Jeug staan reg om die howe te nader om mediese gegradueerdes van hul Zuma-jaar vry te skeld indien die staat versuim om hulle betyds te plaas. “AfriForum Jeug beskou dit in ’n baie ernstige lig wanneer jongmense se loopbane deur die staat se wanadministrasie aan bande gelê word,” sê René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug.

René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug

Soortgelyke plasings