|

Spring nou! Nog net 24 uur tyd om vir AfriForum Sakenetwerk se skolekunskompetisie in te skryf

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Die Amerikaanse kenner oor kinderopvoeding Sydney Gurewitz Clemens sê kuns het die vermoë om kinders te help om meer soos hulself te word in plaas van meer soos almal anders.

Die AfriForum Sakenetwerk wil in dié gees vir kinders leer om hul kreatiwiteit te ontwikkel en diegene wat daarmee woeker ook beloon.

Daarom het hul besluit om in samewerking met die Prag & Praal Kunskraal, AfriForum Teater se eie galery, ’n skolekunskompetisie en -uitstalling aan te bied om vir kinders die geleentheid te gee om hul kunswerke uit te stal en te verkoop. Daar is ook gróót kontantpryse vir uitstallers op die spel.

Enige kunswerk van enige medium is welkom en hoef nie vooraf gekeur te word nie. Die tema vir kunswerke is “hoop” en inskrywings sluit môre 16 November.

AfriForum Sakenetwerk wil kinders aanmoedig om te woeker met hul talente. Foto: Unsplash

Die uitstalling open op 25 November en sal tot 22 Desember in die Prag & Praal Kunskraal uitgestal word. Deelnemers bepaal self die prys van hul kunswerke en kunswerke wat nié op die eerste dag van die kunsuitstalling verkoop word nie, sal ook beskikbaar wees op AfriForum Sakenetwerk se webtuiste om gekoop te word. Diegene wat elders woon, sal dus ook die geleentheid kry om van hierdie kunswerke te koop.

Omdat uitstalspasie beperk is, werk dit op die beginsel van wie eerste kom, kom eerste aan die beurt (jou inskrywingsvorm bespreek dus jou uitstalspasie). Daar sal ook ’n wenner en naaswenner vir die beste kunswerke in die volgende kategorieë aangekondig word:

  • 6 tot 8 jaar:

Eerste plek R4 000 en tweede plek R2 000

  • 9 tot 11 jaar:

Eerste plek R6 000 en tweede plek R3 000

  • 12 tot 14 jaar:

Eerste plek R8 000 en tweede plek R5 000

  • 15 tot 18 jaar:

Eerste plek R10 000 en tweede plek R7 000

Volgens Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk, is kunstenaars ook entrepreneurs in eie reg. “Ons hoop dat kinders deur hierdie kompetisie aangemoedig sal word om hulself uit te leef in die kunste én sal leer dat hulle met hulle kunstalent ook kan woeker en daarmee geld verdien.”

Beoordelaars van die kompetisie sluit in die RSG-omroeper Christelle Webb-Joubert, wat verantwoordelik is vir RSG Kuns en Geestesgesondheid, keramiekkunstenaar Jana Nel, fotograaf en grafieseontwerper Rozier van Tonder, die kontemporêre kunstenaar Annemie Odendaal asook Kobus Galloway, die man agter die sketse en skertsery van Idees Vol Vrees.

Meer inligting oor die kompetisie is hier beskikbaar. Die wenners sal op 25 November tydens die opening van die uitstalling aangekondig word.

Soortgelyke plasings