|

AfriForum versoek publiek om standpunt by openbare raadplegingsessies teen BELA-wet in te neem

Die bedreiging wat die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die BELA-wet) vir onderwys oor die algemeen en meer spesifiek vir Afrikaanse onderwys inhou, duur steeds voort. In 2022 het ’n oorweldigende meerderheid individue en instellings met skriftelike kommentaar standpunt teen die inhoud daarvan ingeneem. Daarna het instellings die geleentheid gehad om op uitnodiging voorleggings aan die parlementêre portefeuljekomitee te doen hieroor, en weer het die meerderheid ernstige kommer oor die konsep uitgespreek. Pas is openbare raadplegingsessies aangekondig waar die publiek mondelinge insette oor BELA kan gaan lewer, met die eerste byeenkoms wat reeds Vrydag 24 Februarie 2023 plaasvind (sien lys van byeenkomste aangeheg).

AfriForum moedig elke lid van die publiek wat ’n belang by onderwys het in watter hoedanigheid ook al om ten minste een van die sessies by te woon en hulle teenkanting teen die konsepwet duidelik te stel. Die toekoms van onderwys, van Afrikaans en van die regte van gemeenskappe is letterlik van elke bydrae afhanklik en die kans moet aangegryp word om die aanvaarding van die wet te voorkom.

Vir die Afrikaanse gemeenskap is die voorstelle daarin dat die provinsiale onderwyshoofde voortaan die finale sê oor die toelatings- en taalbeleid van skole moet hê, die mees aanvegbare aspek. Nie alleen kom dit neer op onaanvaarbare toenemende magsentralisasie in die hande van die staat nie, maar dit verbreek ook die huidige samewerkingsmodel tussen die staat en skoolgemeenskappe, soos verteenwoordig deur demokraties verkose beheerliggame van skole. Beheerliggame as verteenwoordigers van ouers, leerders en plaaslike skoolgemeenskappe is veel beter in staat om die behoeftes van hul skole te bepaal en kan die beste insette gee om te verseker dat kinders toegang tot uitnemende onderwys geniet in ’n vormende opvoedkundige en kulturele omgewing.

Afgesien van die bedreiging vir Afrikaanse skole, is daar verdere gronde wat die wysigingswetsontwerp onwenslik maak, byvoorbeeld die vaagheid van sommige voorstelle en die toenemende en onuitvoerbare administratiewe rompslomp wat die implementering daarvan tot gevolg sal hê. Van die voorgestelde wysigings bots selfs met bepalings van die Grondwet en ander bestaande wette, soos die Suid-Afrikaanse Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting.

Enigeen wat meer inligting oor die wetsontwerp, openbare raadplegingsessies of enige ander aspek van BELA benodig, is welkom om AfriForum te kontak by onderwys@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings