AfriForum vra appèlhofregter om te onttrek aan die “Kill the Boer”-saak

Die burgerregteorganisasie AfriForum se regspan het die afgelope Vrydag ’n brief aan die Griffier van die Hoogste Hof van Appèl gestuur waarin amptelik versoek word dat waarnemende appèlregter Raylene Keightley haarself onttrek van verdere deelname aan die paneel van regters wat moet beslis in AfriForum se appèlaansoek teen Julius Malema en die EFF se gebruik van die dreunsang “Kill the Boer”.  

Dié versoek volg nadat dit die afgelope week aan die lig gekom het dat Keightley in 2018 in ’n hof teen AfriForum uitgevaar het deur aan te voer dat dié organisasie onwillig is om van “anachronistiese standpunte” afstand te doen. Sy het destyds ook gesê dat AfriForum dit moontlik mag oorweeg om te vra vir haar onttrekking, sou sy weer voorsit in ’n saak waarby AfriForum betrokke is.

AfriForum vra in dié prokureursbrief dat Keightley haar gewete behoort te volg en self onttrek, maar dui aan dat, sou sy dit nie doen nie, AfriForum ’n amptelike hofaansoek sal bring vir haar onttrekking van die paneel. Volgens AfriForum het regter Keightley se optrede tydens die verhoor wat die afgelope Maandag in Bloemfontein plaasgevind het, asook vorige uitlatings deur dié regter oor AfriForum, die redelike vermoede laat ontstaan dat sy bevooroordeeld is teen AfriForum.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê hy en AfriForum se regspan in die “Kill the Boer”-saak is eers ná Maandag se verhoor, waarin Keightley volgens hom openlik bevooroordeeld was, ingelig van Keightley se destydse tirade teen AfriForum in die Hooggeregshof in Pretoria in 2018. Volgens Kriel het Keithley destyds teen AfriForum beslis in die hofsaak oor Unisa se besluit om Afrikaans as onderrigtaal te skrap. Keightley het verlof aan AfriForum toegestaan om teen haar uitspraak te appelleer en het daarna volgens Kriel gesê dat sy, gegewe die feit dat sy reeds beslissing gelewer het, maar “dié goed” oor AfriForum kan sê. Kriel het daarop gewys dat beide die Appèlhof en die Konstitusionele Hof daarna in AfriForum se guns teen Keightley se aanvanklike uitspraak beslis het.

Volgens Kriel plaas Keightley se partydige optrede opnuut die kollig op die gevaar wat die huidige politieke samestelling van die Regterlike Dienskommissie vir die geloofwaardigheid van die regbank inhou. “Keightley, wat tans as appèlregter waarneem, sal sou sy permanent aangestel wou word, voor die Regterlike Dienskommissie, waarvan Julius Malema ’n lid is, moet verskyn en deur Malema en kie aanbeveel moet word vir die pos. AfriForum het nog altyd hoë agting vir die Appèlhof en sy regters gehad, maar hierdie soort belangebotsings en Keightley se optrede hou die gevaar in dat gewone mense vertroue in die howe kan verloor,” sluit Kriel af.

Soortgelyke plasings