|

Springs-tak sny sowat twee hektaar gras in Februarie

Die AfriForum-tak in Springs het gedurende Februarie meer as 1,9 hektaar gras in dié stad gesny. In hierdie tydperk is daar veral gefokus op Casseldale op die hoek van Coillery- en Driehoekweg, asook ’n parkie in Edelweiss. Dertig swartsakke vol gras is met ’n 4 ton-vragmotor verwyder nadat die gras by die parkie gesny is.

Hierdie projek vorm deel van die tak se volhoubare skoonmaakprojek waartydens verskeie areas in stand gehou word. Die Springs-tak het ook ’n tuinspan wat weekliks Butler Park en die Eendedam opruim en netjies hou.

“Die tak is toegewyd om ’n skoner en gesonder omgewing vir ons gemeenskap te bevorder. Ons is verheug oor die sukses wat hierdie projek tot dusver behaal het. Ons glo dat dit ’n positiewe impak op die estetiese waarde van die dorp sal hê en dat dit die algehele welstand van ons inwoners ook positief sal beïnvloed,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

Hy bedank ook die gemeenskap vir hul ondersteuning en samewerking wat dit moontlik maak vir die Springs-tak om positiewe veranderinge in die stad aan te bring.

“Vir ’n gemeenskapsprojek om suksesvol te wees, is dit afhanklik van burgerregteorganisasies en die breër gemeenskappe se samewerking,” sê Cornel Swart, voorsitter van AfriForum se Springs-tak.

Word vandag deel van die oplossing en sluit aan by AfriForum se Springs-tak. Kontak Cornel Swart by 063 636 2233.

Soortgelyke plasings