|

Bethlehem-tak ruk dorp stuk-stuk reg

AfriForum se Bethlehem-tak het die afgelope maand met bloed, sweet en byna 12 ton teer daarin geslaag om woonbuurte in dié dorp se paaie weer rybaar te maak.

’n Span werkers verbonde aan die tak het die afgelope twee weke tien ton teer gebruik om slaggate in onder meer die Panorama-woonbuurt te vul. Verskeie strate in die buurt is ook met ’n verseëlaar geverf om te keer dat nog krake in die pad vorm.

Bongani Mkhonza, Romeo Molekoane en Frans Olivier, die span wat slaggate bykans toeoë kan vul, het meer as ’n ton teer op slaggate in die La Provance-buurt gebruik en ook ’n groot deel van die paaie met verseëlaar geverf.

As deel van AfriForum se verbintenis tot die instandhouding van openbare ruimtes wat deur gemeenskappe vir ontspanning gebruik word, het die tak ook die parkeerterrein van die Bethlehem Golf And Country Club getakel. Die gholfklub het in samewerking met die tak besluit om die slaggate en krake in die parkeerterrein te vul. Die klub het die nodige teer aangekoop, terwyl Mkhonza, Molekoane en Olivier ingespring het om die herstelwerk te doen.

“AfriForum se Bethlehem-tak is daartoe verbind om woonbuurte en privaat ontspanningsfasiliteite op allerlei maniere te ondersteun om die vooruitgang van die gemeenskap te bewerkstellig,” sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.

Ikking het ook die inwoners van Bethlehem bedank vir hul betrokkenheid by die tak. Lede van die publiek kan vandag nog by die Bethlehem-tak betrokke raak deur www.wordlid.co.za te besoek.

Soortgelyke plasings