|

Staatskapingsverslag het enorme regs- en politieke implikasies

Regslui wat adv. Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer, se staatskapingsverslag gister ontleed het, is dit eens dat dit reuse regs- en politieke implikasies gaan hê.

Dr. Llewellyn Curlewis, strafregkenner en voormalige president van die Prokureursorde van Suid-Afrika, prof. Marinus Wiechers, emeritus professor in staats- en volkereg aan Unisa, en adv. Albert Lamey van die Pretoria Balie, het die verslag by ’n blitsseminaar van die Vereniging van Regslui vir Afrikaans (VRA) in Centurion, toegelig.

Curlewis het gesê die verslag is as’t ware ’n “voorgereg” en baie water moet in die see loop om duidelikheid te kry oor waarheen dit gaan lei. “Die regs- en politieke implikasies is nie gering nie. Wat ook al uiteindelik bevind word, sal net ’n druppel in die emmer wees oor wat die aard en omvang van vergrype is.”

Volgens Curlewis is dit moeilik om uit dit wat in die verslag staan ’n gevolgtrekking te maak oor presies watter misdade alles gepleeg is. Dit sal neerkom op politieke moddergooiery sonder behoorlike regsgronde.

Daarom verwelkom Curlewis die optrede van die burgerregte-organisasie AfriForum om strafregtelike klagte teen geïmpliseerdes in die verslag te lê ten einde die weg vir ’n onafhanklike ondersoek en moontlike vervolging te baan.

Curlewis het daarop gewys dat die verslag aandui dat Suid-Afrika op vele vlakke baie kwesbaar is en dat risiko’s die land bedreig. Dit wissel van risiko’s rondom die ekonomie, beleggings wat afneem en suiwer risiko’s ten opsigte van bedrog, geweld en ander misdrywe.

Lamey het op administratiewe vlak na die verslag gewys en gesê Madonsela het gegewe die tyd tot haar beskikking goeie aanbevelings gemaak in terme van die regterlike kommissie wat aangestel moet word en dat die hoofregter die regter moet aanwys wat die ondersoek moet lei.

Lamey het onder meer na die getuienis van adjunkminister Mcebisi Jonas in die verslag gewys en gesê: “Daar is harde feite in die verslag wat nie geïgnoreer kan word nie.

“Daar is direkte getuienis van pogings om mense om te koop wat georganiseerde misdaad en korrupsie impliseer. Die Guptas se aandeelhouding en betrokkenheid by instellings en konflik van belange is uitgewys. Hier is baie materiaal om mee te werk. Ons kan verwag dat ’n volledige ondersoek baie meer sal uitwys,” meen Lamey.

Wiechers meen ook dit is ’n omvangryke verslag en dat dit ’n geweldige politieke impak het in terme van faksiesgevegte binne die ANC met Zuma aan die een kant en Cyril Ramaphosa aan die ander kant.

Hy het ook na die optrede van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) gewys wat alles moontlik doen om Pravin Gordhan, minister van finansies, te probeer vervolg.
Die werklikheid is dat dit oor ’n stryd om oorlewing vir Zuma gaan en dat Gordhan as’t ware as “offerlam” opgeoffer moet word om die Zuma-faksie in beheer in te hou. Die teenoorgestelde is egter aan die gebeur met al hoe groter steun vir Gordhan en by implikasie verskerp dit Ramaphosa se moontlike presidentskap.

Wiechers het gesê wat op die oomblik besig is om in Suid-Afrika af te speel, is in terme van die demokrasie baie positief en bemoedigend. “Mens kan maklik sê dinge loop nou baie verkeerd, maar eintlik begin dit nou reg loop met groter tekens van lewenskragtigheid van ons demokrasie.”

Soortgelyke plasings