|

Hoe rooier, hoe mooier: Só word Bloemhof verfraai

Die AfriForum-tak in Bloemhof het onlangs nuwe toerusting aangekoop om die dorp op te knap én te beveilig. Die tak se bloedrooi trekker gaan nie net die gras op sypaadjies tem nie, maar ook verseker dat geen misdadigers in toegegroeide parke of velde skuil nie.

JP Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland, sê die Bloemhof-tak gaan die nuwe trekker gebruik om toegegroeide sypaadjies, parke en velde te onderhou, aangesien die Lekwa-Teemane Plaaslike Munisipaliteit versuim om dit op ’n gereelde basis te doen. Ander grassnytoerusting sal saam met die trekker ingespan word om ’n groter deel van die dorp te dek.

Die verfraaiing van die dorp is egter nie al waarvoor dié trekker beskore is nie. Volgens Nel speel hierdie toerusting ook ’n groot rol in die beveiliging van die gemeenskap. Toegegroeide velde kan nou vinniger getem en makliker onderhou word om sodoende te verseker dat misdadigers nie ongesiens in woonbuurte skuil nie.

“Elke projek wat die tak aanpak, maak nie net ’n daadwerklike verskil op die omgewing nie, maar ook op die inwoners se veiligheid. Met dié dat dienslewering in die land kwyn, is dit baie belangrik dat gemeenskappe hulself toerus om dienste te lewer. AfriForum se Bloemhof-tak streef daarna om ’n skoner en veiliger omgewing vir almal agter te laat,” sê Nel.

Die tak beplan om die trekker in te span om ander projekte op die dorp te takel en ’n daadwerklike verskil in die gemeenskap te maak. Volg AfriForum se Bloemhof-tak op sosiale media vir meer inligting oor dié projekte of besoek www.wordlid.co.za om by die tak betrokke te raak.

Soortgelyke plasings