Steyn moet bly!

Ondersteun AfriForum se appèl teen die verskuiwing van die standbeeld van president M.T. Steyn van UV se kampus

 

Die Provinsiale Erfenishulpbronagentskap het toestemming verleen dat die standbeeld van president M.T. Steyn van die Universiteit van die Vrystaat se kampus verwyder word.  Die universiteit voer onder meer aan dat die verwydering van die standbeeld samehorigheid op die kampus sal bevorder.

AfriForum verwerp die argument.  Samehorigheid op ’n kampus kan alleen bevorder word as alle studente mekaar se erfenis respekteer en ruimte daarvoor laat.  As een deel van die studentegemeenskap ’n ander gemeenskap se erfenis as só aanstootlik beskou dat dit nie in openbare ruimtes sigbaar mag wees nie, is daar geen sprake van respek nie, en ook geen waarborg dat lede van die ander gemeenskap veilig op die kampus sal wees en met respek behandel sal word nie.

’n Universiteitsbestuur kan alleen ’n gebalanseerde opvoedingsrol vertolk indien dit studente aanmoedig om mekaar en mekaar se erfenis met wedersydse respek en erkenning te behandel.  Wanneer die knie voor enkele aktiviste gebuig word, word ’n gevaarlike presedent geskep waar rasionele argumente nie langer ‘n rol speel nie, maar slegs die ideologiese argumente van die oomblik.

’n Universiteit het ook ’n plig teenoor voorafgaande en toekomstige geslagte om alle erfenishulpbronne op sy kampus te bewaar – ongeag daarvan of die magshebbers van die hede met die argumente van die skeppers daarvan in die verlede ooreenstem.  Dit is ook die ruimte waarvoor die aanhef tot die Suid-Afrikaanse Grondwet voorsiening maak wanneer dit sê:

Ons, die mense van Suid-Afrika, … respekteer diegene wat hul beywer het om ons land op te bou en te ontwikkel; en glo dat Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid.

President M.T. Steyn het ’n enorme rol vertolk om die Vrystaat tot modelstaat van sy tyd te probeer bevorder, om vir die heropbou van Suid-Afrika na afloop van Anglo-Boereoorlog (1899-1902) te sorg en opvoedkundige geleenthede te skep.  Hy het die fondamente gelê van geleenthede wat vandag vir alle voornemende studente toeganklik is.  Om dié rede is sy standbeeld destyds op die kampus opgerig en verdien dit om daar te bly, ongeag of die totale studentegemeenskap en personeelkorps met sy standpunte en die stelsels van sy tyd saamstem, of nie.  Die standbeeld se teenwoordigheid vertel die verhaal van die verlede en kan gebruik word om gesonde debat op die kampus tussen meningsvormers met uiteenlopende opinies te bevorder.  Daarteenoor kan die verwydering daarvan geen rol speel om herevaluering van die verlede en gesonde diskoers in die hede aan te moedig nie.

Ek, die ondergetekende, vereenselwig my met die bostaande argument en ondersteun die appèl van AfriForum teen die verskuiwing van die standbeeld.

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Mediaverklarings:

AfriForum en bewaringsinstellings staan verskuiwing van Steyn-standbeeld teen

Soortgelyke plasings