Stop Kuba-skenkings

Die verhouding tussen die Kubaanse regering en die Suid-Afrikaanse ANC-beheerde regering kom neer op ’n bodemlose stortingsterrein vir belastinggeld. Die ANC-regering neem besluite om sy politieke agenda en verhoudings te bevoordeel en wat nie die beste belange van Suid-Afrika of sy burgers op die hart dra nie.

Voeg jou naam hierby om dit STOP te sit:

Op 25 Oktober 2023 het AfriForum ’n hofsaak teen die regering gewen, hoewel die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking hand en tand in die howe baklei het om met dié R50 miljoen-skenking aan sy Kubaanse vriende voort te gaan. AfriForum het egter nie daar gestop nie. AfriForum het op 18 Oktober 2018 ’n aansoek in terme van die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting 2 van 2002 (beter bekend as ’n PAIA-aansoek) aan dié departement gerig. In dié aansoek dring ons daarop aan dat die departement inligting deel oor skenkings wat oor die afgelope 20 jaar aan Kuba gemaak is.  Dit was reeds in 2016 al bekend dat die Suid-Afrika en Kuba al meer as 30 bilaterale ooreenkomste onderteken het wat groot areas van samewerking behels, insluitend onderwys, wetenskap en tegnologie, landbou, gesondheidsdienste, behuising, en water en sanitasie.

Reeds in 2016 het die departement erken dat samewerking tussen Suid-Afrika en Kuba die hoogste is op die gebied van gesondheid, menslike nedersettings en openbare werke. Hierdie samewerking sluit in tegniese ondersteuning op verskeie terreine, insluitend gesondheid, ingenieurswese en onderwys. Die Suid-Afrikaanse/Kubaanse mediese uitruilprogram het in die vroeë 1990’s in werking getree en word beskou as die belangrikste bewys van samewerking tussen dié twee lande. Die ooreenkoms is aangegaan om die erge tekort aan gesondheidsorgpraktisyns in Suid-Afrikaanse landelike en onderbediende stedelike gebiede te verlig. Intussen ontvang Kubaanse dokters in Suid-Afrika die bietjie geld wat die gesondheidsdepartement vir salarisse beskikbaar het, terwyl Suid-Afrikaanse dokters met die minimum tevrede moet wees.

Die ekonomiese hulppakket

In 2012 het Suid-Afrika ’n ooreenkoms vir ’n ekonomiese hulppakket met Kuba onderteken vir ’n totale bedrag van R350 miljoen. Dié ooreenkoms is op 25 November 2011 gefinaliseer en op 3 Februarie 2012 onderteken. Dit was nie ’n lening wat Kuba moes terugbetaal nie – dit was eerder ’n vorm van ekonomiese hulp ná orkaan Ike dié land in 2008 getref het. Die skenkings was in drie aparte “fasiliteite” gemaak.

  • Fasiliteit A (2 Oktober 2015) – dit is ’n toekenning van R40 miljoen vir die aankoop van saad, waarvan saad ter waarde van R5 miljoen by Suid-Afrika aangekoop moet word, en die oorblywende R35 miljoen óf by Suid-Afrika, óf elders in die wêreld.
  • Fasiliteit B (18 Augustus 2011) – dit is ’n solidariteitstoelae van R100 miljoen vir die aankoop van goedere in die Suid-Afrikaanse mark.
  • Fasiliteit C (4 Desember 2018) – dit is ’n R210 miljoen-kredietlyn. Dié kredietlyn verwys na ’n bedrag geld wat Kuba van Suid-Afrika kan leen in die vorm van ’n ekonomiese hulppakket.

Die inligting wat die departement ná die PAIA-aansoek aan AfriForum verskaf het, het egter geen kontrakte, dokumentasie, los papiere of boekmerke ingesluit nie. Die departement hou vol dat AfriForum toegang tot dié bewyse kan kry deur ’n interne appèl en het dus geweier om enige bewysstukke te deel. Wat probeer die ANC-regering vir ons wegsteek?

Proses

Tydlyn:

Die Suid-Afrikaanse en Kubaanse regerings: ingenieurs, uitgawes, dokters en skenkings sedert 2020

Mediaverklarings

Soortgelyke plasings