|

AfriForum verskyn in hof om Suid-Afrikaanse regering se R50 miljoen-skenking aan Kuba finaal te stop

Uitspraak is in die Pretoriase Hooggeregshof voorbehou waar die burgerregteorganisasie AfriForum vandag met ’n hersieningsaansoek verskyn het om die regering se beoogde R50 miljoen-skenking aan die Kubaanse regering, finaal te keer.

AfriForum het reeds in 2022 ’n dringende interdik bekom om die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (Dirco) te verhoed om R50 miljoen aan die Kubaanse regering te skenk. Die regering se poging om te appelleer was van die hand gewys.

“Suid-Afrika bevind homself tans in ’n kragkrisis, ’n werkloosheidskrisis, ’n korrupsiekrisis en ’n krisis om ekonomies te groei. Daar is geen regverdiging vir ’n R50 miljoen-skenking aan Kuba nie,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“As ANC-kamerade só desperaat is om miljoene aan hul vriende in die Kubaanse regering te skenk, kan hulle hierdie uitgawe self befonds met behulp van die buitensporige salarisse van meer as R2,4 miljoen per jaar wat ministers verdien,” sluit Van Zyl af.

Soortgelyke plasings