|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

Al was pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede Donderdagaand weer vol (leë) beloftes, is AfriForum steeds van mening dat die afwenteling van mag en sterk selfstandige gemeenskappe die oplossing is vir die huidige situasie in Suid-Afrika.

AfriForum het ná afloop van die staatsrede beklemtoon dat die kommerwekkende vlakke van werkloosheid, skooluitvalle, swak skoolprestasies en die moordsyfer nie met slim politieke praatjies weggeredeneer kan word nie. Die organisasie het ook in ’n vorige verklaring heelwat van die beloftes wat Ramaphosa in 2023 gemaak het – wat nie gerealiseer het nie – uitgelig.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid verwelkom die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se besluit om adv. Rachelle van der Walt, senior aanklaer, aan die hoof te laat staan van die saak teen drie Tshwane Metropolisiebeamptes wat van omkopery aangekla word. Die privaatvervolgingseenheid tree in die saak ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag op.

Die burgerregteorganisasie se veiligheidstrukture was ook in Groblersdal om die gemeenskap se veiligheid te verseker tydens ’n hofsaak wat tot ’n groot byeenkoms deur politieke partye gelei het.

Danksy die op-en-wakker-optrede van ’n inwoner van Potchefstroom kon die plaaslike AfriForum-buurtwag en Mooirivier Beskerming vyf vermeende perdediewe vastrek. Die polisie is ontbied en vyf minderjariges is aan hulle oorhandig. Dit het later aan die lig gekom dat die vyf kinders deur ’n man, wat glo onlangs uit die tronk vrygelaat is, betaal is om die perde te steel.

AfriForum se Alfa-buurtwag het sy nuwe brandweerwa ingespan om te help om die verwoestende brande in die Wes-Kaap te blus. Dié buurtwag het in Januarie ook die polisie en privaat sekuriteitsmaatskappye gehelp deur sewe arrestasies uit te voer. Die Alfa-buurtwag het tydens dié arrestasies beslag gelê op gesteelde goedere en gevaarlike wapens.

Die Overstrand-tak het ook tydens die brande 300 individuele sakkies oogdruppels aan die brandweer geskenk om hulle te help om dié gevaarlike en allerbelangrike diens voort te sit. Die Worcester-tak het ook bottels water en koeldranke aan diegene geskenk wat brande in Wolseley bestry het.

Die AfriForum-tak in Vryheid het die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) finaal gevra om die AbaQulusi Plaaslike Munisipaliteit se lisensie vir die verspreiding van elektrisiteit terug te trek. Dit volg nadat Nersa dié munisipaliteit in Oktober 2023 op ’n vorige versoek van AfriForum geoudit het.

Die takke in die Hoëveld, Mpumalanga, het tydens ’n watertekort behoorlik ingespring om inwoners van water te help voorsien. Ongeveer 300 000 liter water is danksy AfriForum en met die hulp van boere en inwoners met boorgate aan die gemeenskap voorsien. AfriForum het verder ’n koördinerende rol gespeel om die munisipaliteit se tenkwaens te help opvul.

AfriForum se tak in Kariega (voorheen Uitenhage) het ingespring en die deurloop in Aalwynlaan in Strelitziapark skoongemaak. Die Rustenburg-tak het ook hulle toerusting nader getrek en op verskeie plekke gras gesny.

In Pretoria het die Groter Moot-buurtspan in Januarie 7,83 hektaar gras gesny en ook veldgras en bossies op sypaadjies verwyder. Verder het dié span die plaaslike brandweer gehelp om ’n boom te verwyder wat die pad versper het. Hulle het ook nog ’n LPR-kamera opgerig om veiligheid in die gebied te verbeter.

Altesaam 65 laerskoolleerders en 18 onderwysers van sewe laerskole in die Pretoria-omgewing het vanjaar AfriForum se eerste Dink of Sink-werkwinkel vir laerskoolleerders by Hoërskool Montana in Pretoria bygewoon.

Soortgelyke plasings