|

Strafbare manslag-beskuldigde in hof vir dood van klein Amé

Die vermeende dronkbestuurder, Joseph Hebron Maponya, het vandag sy eerste verskyning in die Middelburg-landdroshof gemaak – meer as 18 maande nadat hy na bewering die motorongeluk veroorsaak het waarin die vyfjarige Amé Jansen van Rensburg dood is. Maponya staan tereg op aanklagte van strafbare manslag, roekelose en nalatige bestuur asook dronkbestuur.

Amé se ma, Nadia Jansen van Rensburg, het AfriForum se privaatvervolgingseenheid in Oktober 2021 genader – ’n maand ná die motorongeluk op 26 September wat die lewe van haar dogter geëis en haar met ’n gebreekte arm gelaat het.

Op daardie noodlottige dag was Jansen van Rensburg, haar man Phillip, haar seun Flippie en Amé met die R555 onderweg na Middelburg. Albei kinders was in hul motorstoeltjies vasgemaak. Daar word beweer dat Maponya in ’n rooi voertuig oor die sperstreep gery het tot in die baan van die aankomende verkeer. Om ’n kop-aan-kop-botsing te vermy, het Phillip uitgeswaai, maar hul bakkie het omgeslaan en gerol. Amé het ’n noodlottige kopwond opgedoen.

Maponya het na bewering van die ongelukstoneel gevlug, maar is deur ’n ooggetuie agternagesit, aangekeer en teruggebring na die toneel waar hy aan die polisie oorhandig is. Daar word beweer dat Maponya sigbaar dronk was.

Die eenheid het tussenbeide getree, maar die saak is vertraag omdat die uitslae van sy bloedalkoholvlak  nog uitstaande was, ondanks die feit dat ooggetuies beweer het dat hulle Maponya in ’n sigbaar besope toestand gesien het.

In Augustus 2022 het adv. Gerrie Nel, hoof van die privaatvervolgingseenheid, die volgende in ’n brief aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) geskryf: “Mnr Maponya was na bewering dronk en daar kan geen regverdiging wees om nie met die vervolging van dronkbestuur voort te gaan deur op die getuienis van die getuies op die toneel staat te maak nie. Dit is onsinnig dat die aangeleentheid nie op die rol geplaas sal word nie weens uitstaande bloedresultate wat jare kan neem om verkry te word indien omstandigheidsgetuienis beskikbaar is om deur die NVG aangebied te word. Deur bloot met die getuies te konsulteer, kan dit vasgestel en bevestig word.”

Die eenheid het voortgegaan om druk op die NVG toe te pas totdat die saak uiteindelik op die rol geplaas is.

Nadia se emosies was oorweldigend toe sy Maponya van aangesig tot aangesig gesien het. “Vir ’n jaar en sewe maande was die naam Joseph Maponya ’n naam wat net hartseer en verdriet vir ons beteken het. Maar vandag kon ek ’n gesig by daardie naam sit. Dit maak my hart bitter seer dat dit so lank moes neem om by hierdie punt uit te kom. Nou is al die pleisters op ons harte afgeruk en die rou seer word weer blootgelê.”

Nadia het AfriForum se privaatvervolgingseenheid bedank vir hul ondersteuning tot dusver. “Dit is nie regverdig dat ons hierdeur moet gaan nie, maar as dit beteken dat geregtigheid kan geskied en gesinne teen soortgelyke hartseer beskerm, doen ons dit. Met die krag wat ons van ons Hemelse Vader kry, sal ons hierdeur kom,” het Nadia gesê.

Die saak is tot 19 Mei uitgestel, ’n dag voordat klein Amé sewe sou geword het. “In plaas daarvan dat ek op 19 Mei in die kombuis staan en ’n koek bak vir my dogter se sewende verjaardag, wat op die twintigste sou gewees het, sal ek in die hof sit,” het Nadia afgesluit.

Barry Bateman, woordvoerder van die privaatvervolgingseenheid, het gesê dit moes nooit so lank geneem het om die saak op die rol te plaas nie. “Die regsbeginsel, geregtigheid vertraag is geregtigheid ontken, is van toepassing op hierdie saak. Daar was genoeg getuienis beskikbaar vir aanklaers om te verseker dat die saak onverwyld vervolg word. Ons is egter dankbaar dat die saak uiteindelik aan die gang kan kom en dat die Jansen van Rensburg-gesin stappe na geregtigheid kan neem.”

Soortgelyke plasings