|

AfriForum kritiseer NGV; versoek President en Minister van Gesondheid om te heroorweeg

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n brief aan president Cyril Ramaphosa en die Minister van Gesondheid, dr. Joe Phaahla, gestuur waarin hulle versoek dat die regering die implementering van Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) heroorweeg. Dit volg nadat Phaahla onlangs bevestig het dat die land het ’n tekort aan dokters het met ’n dokter-tot-pasiënt-verhouding van 0,32 tot 1000.

AfriForum se brief voer aan dat NGV onbekostigbaar is vir die reeds oorbelaste belastingbetaler, wat hoër belas word as in ander lande met vergelykbare BBP’s en gedwing word om “dubbele belasting” te betaal vir noodsaaklike private dienste soos gesondheidsorg. Die burgerregteorganisasie voer ook aan dat die gesentraliseerde siekefonds vatbaar sal wees vir presies dieselfde mislukkings wat byna alle staatsbeheerde entiteite (SBE’s) kenmerk. Wat miskien meer kommerwekkend is, is ’n 2021-peiling van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging wat wys op die moontlike massa-emigrasie van professionele gesondheidsorgpersoneel sou NGV implementeer word.

As ’n oplossing stel AfriForum voor dat die regering moet begin om die reeds bestaande bestuurskwessies in die openbare gesondheidsektor op te los. Daarmee saam stel AfriForum voor dat die private sektor verder uitgebrei en gestimuleer moet word om groter mededinging tussen mediesefondsverskaffers te verseker en sodoende die vrye mark toe te laat om pryse vir kopers af te bring.

“Die onlangse bevestiging deur die minister van die ernstige tekort aan dokters in Suid-Afrika, is net nog ’n voorbeeld van hoekom ’n staatsmonopolie gesondheidsektor katastrofies sal wees. Hierdie brief is ’n poging om ’n konstruktiewe dialoog met die regering te bewerkstellig teenoor die NGV. As die brief egter op dowe ore val, sal AfriForum voortgaan om die voorgestelde wetgewing teen te staan ​​met al die middele tot ons beskikking. Ons stryd teen NGV is een van die belangrikste gevegte en die toekoms van die land hang daarvan af,” sê Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Voeg jou steun by AfriForum se veldtog teen Nasionale Gesondheidsversekering.

Soortgelyke plasings