|

Strafregstelsel versaak wéér slagoffer van molestering in Brits

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het die verwikkelinge gister in die Brits Landdroshof in een van die kindermishandelingsake waarby die eenheid tans betrokke is as betreurenswaardig bestempel. Dit volg nadat die saak teen twee mans, asook die ma van ’n jong dogtertjie vandag tydens die voorverhoorverrigtinge eers vir verhoor op 29 Augustus 2022 op die rol geplaas is. Die hof het vandag aanvaar dat die rede vir hierdie lang verloop voordat die vervolging van die beskuldigdes vir die beweerde misdade wat reeds in 2018 teen ’n kind van vier jaar oud gepleeg is uiteindelik kan begin, is om die beskuldigdes die geleentheid te gee om befondsing vir hul regsverteenwoordiging te reël.

Volgens Natasha Venter, adviseur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, is die eenheid  geskok oor die mededeling dat die regsverteenwoordiger glad nie in fondse geplaas is nie, en het dit as ’n blote vertragingstaktiek bestempel.

“Dit is ’n skande dat hierdie kind aan soveel sekondêre trauma blootgestel word, bloot omdat die beskuldigdes se regte bó die van die slagoffer gestel word. Die slagoffer was in 2018 vier jaar oud en byna vier jaar het reeds verloop sedert die beweerde insidente. Hierdie saak is al keer op keer uitgestel om te verseker dat die beskuldigdes se regte beskerm word, maar geen agting is klaarblyklik geskenk aan die effek wat dit op die jong slagoffer het wat nou gruwelike herinneringe moet opdiep oor wat na bewering vier jaar terug met haar gebeur het nie. Dit voorkom nie net dat die slagoffer enige afsluiting kry nie – dit is ook ’n klad op die strewe na geregtigheid,” sê Venter.

Volgens Venter wil die privaatvervolgingseenheid die NVG komplimenteer met die aanstelling van staatsadvokaat Salomé Scheepers om die vervolging te behartig, en dit is ’n feit dat onbillike vertragings soos hierdie ook onnodige ekstra werk vir hardwerkende aanklaers skep. Die hof het dit ook gister op rekord geplaas dat daar steeds geen permanente streeklanddros in Brits is wat hierdie saak gaan aanhoor nie, aangesien die voormalige streeklanddros in Brits na Ga-Rankuwa oorgeplaas is. Dit het bygedra tot die lang verloop voordat die verhoor kan begin, en dui daarop dat Ronald Lamola, die Minister van Justisie, se stellings in die media dat sake van geweld teen vroue en kinders geprioritiseer sal word, bloot lippetaal is.

Die saak is vir verhoor op die rol geplaas van 29 tot 30 Augustus, asook 7 tot 9 September 2022. Die beskuldigdes en hul regsverteenwoordiger moet op 1 Junie 2022 aan die hof bevestig dat die befondsing gereël is.

Soortgelyke plasings