|

Coligny-tak takel slaggate

AfriForum se Coligny-tak het van 19 Junie tot 6 Julie 180 vierkante meter se slaggate in Voortrekkerstraat opgevul. ’n Dorp se paaie is ’n groot bate en die swak instandhouding daarvan hou ’n groot gevaar vir padgebruikers in.

Dié enorme slaggate is met 14 ton warm teer opgevul waarna SS60 bitumenemulsie gebruik is om dit te verseël.

“Ons kan nie op die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit staatmaak om Coligny se paaie in stand te hou nie aangesien daar tot dusver min tot geen instandhouding gedoen is nie. Daarom het ons besluit om dit self te doen,” sê Tewie Pieterse, voorsitter van die Coligny-tak.

“Die AfriForum Coligny-tak het besluit om ’n groot slaggatprojek te loods om die enorme slaggate in die hoofstraat op te vul. Ons bedank Noordwes Koöperasie (NWK) vir hul teerskenking en Gideon du Preez van Lichcrete wat dit afgelaai het. Sonder julle sou die projek onsuksesvol gewees het. Motoriste ry tans eerder op die skouer van die pad as op die pad self juis oor dié slaggate. Die pad is nog nie heeltemal opgegradeer nie, maar die gedeelte wat wel herstel is, maak reeds ’n groot verskil,” sê Armand Viljoen, distrikskoördineerder vir Marico.

AfriForum se Coligny-tak moedig inwoners aan om betrokke te raak en daag ondernemings en individue uit om teer vir ’n spesifieke straat se slaggate te skenk.

Klik hier of skakel Tewie Pieterse by 078 611 2214 om by AfriForum se Coligny-tak aan te sluit.

Soortgelyke plasings