|

Suid-Afrika moet sy onverantwoordelike hidrobreking-stormloop stopsit

Die Departement van Minerale Bronne en Energie het op 31 Julie 2023 omgewingsmagtiging aan Rhino Oil and Gas Exploration South Africa (Edms.) Bpk. verleen. Dié magtiging laat die maatskappy toe om voort te gaan met die boor van tot 40 eksplorasieboorgate in die Vrystaatse provinsie oor ’n oppervlakte van ongeveer 753 797 hektaar. Die gemagtigde eksplorasiegebied bestaan hoofsaaklik uit private grond en plase in die omgewing van Bothaville, Viljoenskroon, Kroonstad, Odendaalsrus, Welkom, Wolmaransstad, Bultfontein, Wesselsbron, Koppies en Heilbron.

Die maatskappy sal die streek vir helium, waterstof en koolwaterstowwe (olie en gas) verken.

Lambert de Klerk, bestuurder van Omgewingsake by AfriForum, sê in reaksie op die onlangse verwikkelinge: “Rhino het verklaar dat hy nie gedurende die eksplorasiefase van hidrobreking (“fracking”) gebruik sal maak nie. Sodra kommersieel lewensvatbare reserwes egter gevestig is, sal boorgatstimulasie waarskynlik nodig wees en hidrobreking insluit. Dit is vir ons ’n groot kommer.”

Jonathan Deal van Treasure Karoo Action Group (TKAG) stem saam en voeg by: “Aangesien die Departement van Water en Sanitasie se voorgestelde regulasies vir hidrobreking en verwante aktiwiteite, wat ’n bedreiging vir grondwaterbronne inhou, steeds in konsepformaat is, sal die kritieke grondwaterbasislynstudies wat nodig is voor booraktiwiteite heel waarskynlik nie plaasvind nie. Die Departement van Minerale Bronne en Energie se haas om skaliegas-eksplorasie onder hierdie omstandighede toe te laat terwyl die vereiste wetgewende en regulatoriese raamwerk nog in konsepformaat is en tans baie ernstige leemtes het, beteken dat die omgewing en menslike gesondheid in gevaar gestel word deur hierdie onverantwoordelike stormloop om hidrobreking in Suid-Afrika te begin.”

“Die uitvoer van omgewingsbasislynstudies, insluitend grondwaterbasislynstudies, is van kardinale belang om grondwaterbesoedeling as gevolg van booraktiwiteite te bewys of te weerlê. Dit is ook uitgelig in die Strategiese Omgewingsevaluering wat deur verskeie regeringsentiteite en navorsingsinstellings uitgevoer is. Dit is baie ernstig, want sodra die eerste domino’s as gevolg van hidrobreking begin val, sal dit al hoe moeiliker word om die proses te stop,” sluit Deal af.

De Klerk het voortgegaan: “Behalwe om organisasies soos onsself te ondersteun, doen AfriForum ’n beroep op die Suid-Afrikaanse publiek om die fundamentele bedreiging wat hierdie magtiging vir ons Grondwetlike omgewingsreg inhou dringend te oorweeg en om hul appèlle by die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing voor 27 Augustus 2023 in te dien. Geaffekteerde grondeienaars moet regsadvies inwin en hul relevante landbou-organisasies kontak vir ondersteuning en leiding.”

  • ’n Afskrif van die brief wat die besonderhede bevat om appèlle aan te teken, kan hier verkry word.

Soortgelyke plasings