|

Sukses: 87-jarige man skuldig bevind aan moord op sy vrou ná privaatvervolgingseenheid ingryp

Regter Réan Strydom het vandag in die Hooggeregshof in Johannesburg vir Dieter Bergs (87) skuldig bevind aan moord met voorbedagte rade van sy vrou Genèe Bergs in 2014. Bergs is ook skuldig bevind aan vervalsing, die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen, die besit van ammunisie, uitgifte en dwarsboming van die gereg. Die hof het hierdie uitspraak kragtens artikel 77 van die Strafproseswet gemaak deur op ’n oorwig van waarskynlikhede te bevind dat die bewyse en getuienis wat deur die staat voorgehou is dat Bergs sy vrou vermoor het, die mees waarskynlike verloop van gebeure is. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het die familie van Bergs kragtens ’n waaksaamheidsopdrag bygestaan.

“Ons is verheug oor die uitspraak, al het dit agt jaar geneem vir Dieter Bergs om uiteindelik aan die pen te ry. Ek is verskriklik verlig dat ons uiteindelik geregtigheid gekry het,” sê Sue Mennie, die dogter van Genèe Bergs.

Dié uitspraak volg uiteindelik nadat die privaatvervolgingseenheid in 2019 by hierdie saak betrokke geraak het toe die landdros, wat die geregtelike ondersoek na Genèe se dood behartig het, hulle genader het met ’n bekommernis oor die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se irrasionele optrede om nie te vervolg nie. Die bevinding van die hof wat die geregtelike doodsondersoek behartig het, was ook dat Bergs prima facie aanspreeklik gehou kan word vir Genèe se dood. Desnieteenstaande, het die NVG vir jare versuim om hom te vervolg.

Dit is eers nadat die eenheid in April 2020 vertoë aan die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) gerig het dat Bergs vervolg moet word, dat die DOV beveel het dat Bergs vervolg moet word. Hy moes in Desember 2020 in die Johannesburgse Landdroshof verskyn op dié klagtes. Hy is egter op daardie geleentheid vrygelaat op borgtog en die saak is oorgeplaas na die hooggeregshof.

Bergs is egter op grond van psigiatriese verslag van Sterkfontein bevind om onbevoeg te wees om verhoor te word. Die NVG het daarna vervolging ingestel kragtens artikel 77 van die Strafproseswet. Dit beteken dat die hof op ’n oorwig van waarskynlikhede ’n bevinding moes maak of Bergs skuldig is wat ’n ligter bewyslas is as in gewone strafsake waar skuld bo redelike twyfel bewys moet word. Die hof het dit egter benadruk en dit is ook so in die verslag gestel dat Bergs by sy volle positiewe was toe hy die misdryf gepleeg het en in staat was om die omvang van sy optrede te besef.

Bergs moet nou vir die res van sy lewe as ’n staatspresidentspasiënt in ’ninstelling vir verswaktes aangehou word. Hy kan ook nie, kragtens die stelreël “die bloedige hand erft nie” van sy oorlede vrou erf nie. Haar bates sal nou aan haar oorblywende familie vererf.

“Hierdie saak sou na alle aanduidings net verdwyn het as AfriForum nie betrokke geraak het en die NVG gedwing het om te vervolg nie. Ons wil egter vir adv. Michelle Bayat, wat die vervolging in die hooggeregshof behartig het, komplimenteer op die wyse waarop sy die saak behartig het,” sê adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Lees die vorige verklaring hier.

Soortgelyke plasings