|

Sukses: Landdros bepaal dat NVG Naeem Deedat behoort te vervolg

Landdros John Maloba het vandag in die Johannesburgse Landdroshof bepaal dat Naeem Deedat aanspreeklik gehou kan word vir die dood van sy vrou, Suraya Deedat, en hul vier kinders. Die landdros het verder gesê dat hy die geregtelike doodsondersoek (GDO) en sy besluit rakende die aanspreeklikheid van Naeem ag as ’n vangnet vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) om te besluit om vervolging in te stel of nie.

Suraya en haar kinders is in 2011 in ’n brand (waarvan Naeem ongedeerd ontsnap het) in hul huis in Johannesburg oorlede. Die NVG moet nou bepaal of hulle vir Naeem gaan vervolg meer as ’n dekade nadat hy na bewering sy hele gesin uitgewis het.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid, onder leiding van adv. Gerrie Nel, verteenwoordig die familie van Suraya sedert 2018 en het ook getuienis namens die familie in die GDO gelei. Die eenheid het tydens die verloop van die GDO verskeie deskundiges en ander getuies geroep om die hof te oortuig om hierdie bevinding te maak.

Volgens Natasha Venter is hierdie ’n oorwinning vir Suraya se familie wat vir so lank aanhou veg het vir geregtigheid. “Hierdie is een van die ergste gevalle van geslagsgebaseerde geweld wat ons nog teëgekom het en ons sal voortgaan om Suraya se familie by te staan in die saak. Sou die NVG, ten spyte van die oorweldigende getuienis wat die eenheid tydens die GDO voorgehou het, besluit om nié te vervolg nie, sal ons privaat vervolging oorweeg.”

Soortgelyke plasings