| | |

Taakspan versprei eerste besending voedsel

Die taakspan gestig deur die burgerregteorganisasie AfriForum en die familieboernetwerk Saai, in samewerking met Solidariteit Helpende Hand se Josef Silo’s-projek, het vandag die eerste besending voedsel by meer as 20 tehuise in die Pretoria-omgewing afgelewer. Meer as 5 ton vars produkte is vandag versprei.

Hierdie inisiatief behels dat voedsel en noodsaaklike items aan behoeftige individue, gesinne en instansies soos onder meer kinderhuise, tehuise vir bejaardes en klinieke in gemeenskappe regoor die land versprei gaan word, veral in die huidige moeilike omstandighede waarin verskeie gemeenskappe hulleself bevind.

AfriForum is verantwoordelik om in samewerking met Saai verspreiding op grondvlak vanuit die Josef Silo’s en ander instansies se afsetpunte te behartig sodat die items wat byvoorbeeld Solidariteit Helpende Hand verpak en voorberei so gou as moontlik by behoeftiges uitkom. Familieboere kan voedsel en ander skenkings by die naaste Helpende Hand Silo’s of ander afsetpunte aflaai en AfriForum sal verantwoordelik wees vir die mikroverspreiding van die voedsel en ander items aan behoeftiges.

“Vandag se skenkings gaan bejaardes in ons gemeenskappe help om deur hierdie uitdagende tyd te kom. Hierdie projek skep hoop en AfriForum wil dit graag uitbou om meer te kan doen. Ons kan veral help met verspreiding van produkte ter ondersteuning van organisasies soos Helpende Hand wat reeds ’n uitstekende fondasie deur die land gevestig het. Ons moenie verwag dat die staat alleen ons gaan bystaan in hierdie tyd nie,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van Gemeenskapsveiligheid.

“Hierdie inisiatief versterk ’n netwerk van rolspelers uit stede en die platteland om die mees behoeftige mense in dié tyd van nood te help. Ons wil veral dankie sê vir die barmhartige boer van Limpopo wat vandag se skenkings gemaak het en ander boere wat tans ’n surplus voedsel het wat vermors gaan word, aanmoedig om dit te skenk aan dié inisiatief of die produkte deur plaaslike strukture te versprei,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

“Helpende Hand se strukture is reeds gevestig en die feit dat ons hande vat met Saai en AfriForum verseker dat drie sterk instansies saam staan om hoop te skep. Daar is reeds meer as 70 Josef Silo’s regoor die land gevestig as reddingsboeie vir behoeftige persone in hierdie moeilike tyd. Byna R2 miljoen is reeds aan die projek geskenk en Helpende Hand kon al in totaal meer as 1 500 gesinne van voedsel voorsien, asook 170 instansies soos tehuise vir bejaardes en kinderhuise tydens die pandemie. Wanneer ons saamstaan kan ons gedurende en na afloop van hierdie krisis met hart in krag tot hoop vorentoe stap,” sê René Roux, adjunk- uitvoerende hoof van Kommunikasie by Solidariteit Helpende Hand.

Die organisasies doen ’n beroep op mense om, indien hulle in dié tyd van inperking goedere gaan aankoop, iets ekstra te koop en by die Josef Silo’s in hul gebied te gaan aflaai. As die inperking verby is, sal die geriewe vir ’n geruime tyd bedrywighede voortsit totdat die krisistyd verby is. Alle voorsorgmaatreëls sal getref word om die publiek se veiligheid te verseker.

Mense kan ook skenkings maak aan die Solidariteit Beweging se noodfonds om hierdie projek te ondersteun.

Rekeninghouer:        Solidariteit Helpende Hand
Bank:                          FNB
Rekeningnommer:    62 331 445 503
Tak:                            Centurion (takkode: 250 655)
Verwysing:                Korona
Swift-kode:                FIRN ZA JJ

Besoek www.helpendehand.co.za en klik op die skakel vir maatskaplike hulp om aansoek te doen vir hulp.

Soortgelyke plasings