|

Padwoede-beskuldigde versuim om vir verhoor op te daag – die jongste vertraging in ’n rits sake van AfriForum se privaatvervolgingseenheid

Sakeman Hannes Botha het vandag ’n doktersbrief by die Hatfield-landdroshof ingedien, op die dag waarop hy verhoor sou word vir die beweerde aanranding van motoris, Brendan Matthews. ’n Lasbrief vir inhegtenisneming is uitgereik, maar is oorgehou tot 3 November wanneer die saak weer in die hof is.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid tree ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag in hierdie saak namens Matthews op. Hy en sy ma het die eenheid genader nadat hulle onsuksesvol probeer het om die mees basiese besonderhede oor die saak by die aanklaer te bekom. Dit het geblyk dat die aanklaer die saak op bemiddeling met die beskuldigde wil rig, ten spyte daarvan dat dit nie die wil van die klaer is nie.

Matthews beweer hy het op 22 Oktober verlede jaar vir Botha by ’n vierrigtingstop in Waterkloof teëgekom waar Botha na bewering versuim het om te stop. Botha het na bewering vir Matthews begin jaag en ’n soliede sperstreep in die aankomende verkeer oorgesteek om Matthews van die pad af te dwing. Matthews sê Botha het sy voertuig van voor versper, sy oop venster genader en hom in die gesig geslaan. ’n Getuie, wat agter Matthews gery het, het ’n verklaring verskaf wat die gebeure bevestig het.

“Botha se afwesigheid in die hof is net nóg ’n vertragingstaktiek in die hoop dat die klaer uiteindelik belangstelling sal verloor en die saak sal terugtrek,” sê Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

“Ons sal hierdie saak noukeurig monitor om te verseker dat geregtigheid geskied. By die vorige verskyning het die aanklaer vir Matthews gesê dat hy haar statistieke ‘belemmer/omvergooi’ deur nie in te stem tot bemiddeling met die beskuldigde nie,” voeg Bateman by. 

Botha se afwesigheid in die hof is net die jongste in verskeie sake die afgelope week waar ’n beskuldigde eenvoudig versuim het om op te daag vir hul verhoor.

In die afgelope week het die volgende ook gebeur:

  • Jacques Loock, wat van aanranding beskuldig word, het ’n mediese afspraak geskeduleer op die dag waarop sy verhoor geskeduleer was om voort te gaan. Die verhoor is tot November uitgestel. Loock, ’n kaptein in die Valke, word daarvan aangekla dat hy sy eks-vriendin, Izelle Venter, aangerand het.
  • Die saak van poging tot moord en verkragting teen Bedford Conga is uitgestel omdat hy ook beweer het hy is siek. Die saak is tot volgende maand uitgestel vir die verhoor om voort te gaan. Conga word daarvan beskuldig dat hy sy voormalige lewensmaat met MIV besmet het, terwyl hy geweet het dat hy die virus het en dit van haar weerhou het.

“Die howe neem nie die afwesigheid van beskuldigdes by verrigtinge ernstig genoeg op nie. Die redes wat hulle verskaf moet behoorlik ondersoek word in plaas daarvan om bloot aanvaar te word. Die vertragings het ’n negatiewe uitwerking op die geloofwaardigheid van die regstelsel, en vererger verder die onreg op die klaers en getuies wat altyd sorg dat hulle in die hof is om te verseker dat geregtigheid geskied,” sê Bateman.

Soortgelyke plasings