|

Taal Tel 4 – Die Woord vir die WêreldTaal

Vroeër vanjaar het ons paaie met dié van Die Woord vir die Wêreld, ook bekend as The Word for the World of TWFTW gekruis. Nie alleen is hulle werk inspirerend nie, maar hulle insig in die belang van kommunikasie in mense se eie moedertaal is besonder belangrik. Hierdie keer fokus Taal Tel dus nie spesifiek op Afrikaans nie, maar op taal oor die algemeen en hoe toegang tot inligting in jou moedertaal, op meer as net die akademiese vlak noodsaaklik is. Dit is veral ook ’n voorreg om meer te vertel oor ’n organisasie wat die Woord van die Here in hulle eie taal na gemeenskappe neem. Veral mooi is dat hulle nie van moedertaal praat nie, maar van “hartstaal”.

Hierdie bydrae herinner ook weer hoe bevoorreg ons is om al vir 90 jaar lank die Bybel in Afrikaans te hê. Op 29 Mei 1933 het die eerste besending Afrikaanse Bybels per skip in Kaapstad aangekom en op Sondag 27 Augustus 1933 is die Afrikaanse Bybelvertaling deur die land feestelik in gemeentes ontvang.

Verskeie kollegas van TWFTW het met ons gesels oor hulle werk en ons bedank hulle vir hulle insette vir hierdie artikel.

Hoe sal julle TWFTW bekendstel of beskryf?

Dis ’n geloofsonderneming, ’n maatskappy sonder winsoogmerk. Die organisasie is in 1981 in Suid-Afrika gestig en is dus inheems Suid-Afrikaans en van Afrika. Dit het intussen uitgebrei om internasionale impak te hê. Die beginsel van ons werk is om inheemsesprekers te bemagtig om die Bybel vir hulle eie mense te vertaal. Ons werk net in tale waarin die Bybel nog nie vertaal is nie. Een van ons kernwaardes is respek vir alle kulture en tale. Ons leuse is “Die Woord van die Here vir elke mens in sy of haar eie taal.” Om seker te maak dat mense wel die Bybel kan lees, het ons ook geletterdheidsprogramme waarin ons mense leer lees en skryf.

Hoe het dit begin en wat maak dit anders as ander sending- en Bybelvertalingsprojekte?

Dit het begin nadat dr. Véroni Krüger ’n ondervinding gehad het waarin hy gevoel het dat die Here aan hom ’n opdrag gegee het om so ’n organisasie op die been te bring. Hy sê dikwels “Die Woord vir die Wêreld het in die hart van God ontstaan”. Ná deeglike navorsing oor Bybelvertaling, tale waarin die Bybel nog nie vertaal is nie en die werk van ander Bybelvertaalagentskappe, het hy die organisasie op 9 Januarie 1981 gestig.

Die onderskeidende kenmerke van TWFTW is die kombinasie van ’n aantal faktore:

  1. TWFTW is inheems aan die Derde Wêreld. Dit beteken ons verstaan mense van die nie-Westerse wêreld omdat ons daar ontstaan het en nou nog wortels daar het.
  2. Ons fokus op inheemsesprekers. TWFTW glo elke persoon moet bygestaan word om tot sy of haar hoogste potensiaal te onwikkel. Ons lei mense op van vertalers tot leiers in die organisasie.
  3. Ons het ’n geïntegreerde opleidingsprogram vir vertalers, deels in-persoon, deels onder toesig van ’n opgeleide vertaler, deels aanlyn. Alles geskied in die lande waarin aspirant vertalers hulle bevind.
  4. Ons skep geleenthede vir korttermyn betrokkenheid. Mense hoef nie meer te dink dat hulle Bybelvertaling hulle beroep moet maak om betrokke te raak nie. Gekwalifiseerde persone neem as opleiers of konsultante in ons vertaalprojekte deel.
  5. Verhoudings is vir ons van die allergrootste belang. Onderling in die organisasie, maar ook met alle ander agentskappe en bedieningsvennote soos voorbidders en finansiële ondersteuners.
  6. Die doel van ons werk is transformasie in mense en kulture. Vandaar die beskrywing van ons visie as dat God verheerlik sal word deur mense wie se lewens verander is deur die krag van God se Woord in elkeen se hartstaal.
  7. ’n Breë visie, soos vervat in die beskrywing van ons missie: Om persone, bedieninge en organisasies van taalgemeenskappe wat nog nie die Bybel in hulle eie taal het nie, te bemagtig om verantwoordelikheid te neem vir Bybelvertaling en verwante aktiwiteite en om die beskikbaarheid en toeganklikheid van vertalings te verseker.

Waarom, meen julle, is dit belangrik dat mense ’n Bybel in hulle eie taal moet hê?

Mense se moedertaal (hartstaal of eie taal) is só belangrik dat daar selfs internasionaal ’n dag per jaar daarvoor afgesonder word, naamlik 21 Februarie. Op daardie dag word die belangrikheid van moedertaal, sowel as die saak van veeltaligheid en die versterking van volhoubare en inklusiewe gemeenskappe beklemtoon.

Die groot kerkhervormer Martin Luther het gebid dat die Bybel in elke taal in die wêreld beskikbaar en toeganklik moet wees om elke mens se lewe te raak.

Paulus vra “En hoe sal hulle in Hom glo as hulle nog nooit van Hom gehoor het nie?” (Romeine 10:14 NLV.)

Moedertaal Bybelvertaling antwoord hierdie vraag met hierdie slagspreuk: “Die Woord van die Here vir elke mens in sy of haar moedertaal”.

Wat is die getuienis van mense wat reeds met julle hulp Bybels gekry het?

Gewoonlik ’n uitroep: “So God praat sowaar my taal ook!”

Daarbenewens getuienisse dat mense voel hulle selfbeeld as individue en volke is opgebou.

’n Vrou uit die Munda-gemeenskap sê: “I have been going to church every week since childhood, but I lived a life of worldly pleasures. Mother-tongue translators of Munda language came to our church one day. They preached and gave me the New Testament in Munda. I enjoyed reading it because it was written in my heart language, and I was able to read and relate to the Scriptures. I started to read the Scriptures every day. It really touched my life, and I trusted in Jesus. I came across a passage that convinced me of my sin and unrighteousness. I confessed my sin, and I asked Jesus to forgive me. I accepted the Lord as my Saviour”.

Hoeveel projekte is julle tans mee besig en waar in die wêreld gebeur dit?

Ons het op die oomblik ’n totaal van 226 projekte waarmee ons besig is, sowel as wat ons reeds voltooi het. Uit dié projekte, het 73 al klaar ’n volledige Nuwe Testament en vyf van die projekte ’n volledige Bybel. TWFTW beoog om instrumenteel te wees om teen 2050 ’n duisend eerste vertalings van die volledige Bybel te produseer.

Dit neem ongeveer 13 jaar om ’n volledige Bybel te vertaal. In die nabye toekoms sal baie van ons projekte gefinaliseer word. Dan sal volledige Bybels in daardie tale gepubliseer kan word.

Ons werk tans in ses streke: Europa, Noord-Afrika, Sentraal-Afrika, Suidelike Afrika, Suidoos-Asië en Suid-Asië

Verkoop julle die vertalings?

Nee, ons verkoop nie vertalings nie, maar die plaaslike kerke waarmee ons saamwerk om die vertalings te fasiliteer, vra ’n klein bedrag per Bybel. Dit keer dat die perspektief ontstaan dat die Bybel waardeloos is.

Ná die Bybel gepubliseer is, laat ons duisende Bybels druk en oorhandig dit aan die plaaslike kerke tydens ’n groot feesviering in die gemeenskap.

Hoe groot is die nood – hoeveel taalgroepe het steeds nie Bybels in hulle eie taal nie?

Volgens die nuutste syfers van November 2022, is daar ongeveer 7 397 tale in die wêreld. Volgens Language Conservancy sterf ’n taal elke twee weke in die wêreld uit en daarom is dit noodsaaklik dat ons ons eie taal opbou en bewaar.

Van die 7 397 tale het slegs 730 tale ’n volledige Bybel, 1 644 die Nuwe Testament, 1 030 slegs gedeeltes, en 3 769 geen dele van die Bybel in hulle eie taal nie.

Waar kan mense meer oor julle werksaamhede te wete kom?

Ons webtuiste word gereeld opgedateer met stories and inligting vir diegene wat meer wil uitvind. Dit kan besoek word by www.twftw.org. Ons het ook ’n “Coffee the Bible”-koffiewinkel in Johannesburg wat die publiek kan besoek om meer in persoon te leer.

Is julle ook bereid om byvoorbeeld gemeentes of groepe oor julle werk toe te spreek?

Ja, beslis! Nooi ons gerus uit!

Soortgelyke plasings