|

AfriForum stig agt nuwe veiligheidstrukture in Oos- en Wes-Kaap waar plaasaanvalle en misdaad hand uitruk

AfriForum het die afgelope twee maande sewe nuwe buurt- en plaaswagte in die Wes-Kaap en een in die Oos-Kaap gestig. Dit sluit die volgende in: Helderbergkom-buurtwag, Hopefield-plaaswag, Vanrhynsdorp-buurtwag, Paarl-Noord-buurtwag, Midbrak-buurtwag, Pastorie-buurtwag en Durbanville-buurtwag in die Wes-Kaap en Winterberg-plaaswag in Uitenhage in die Oos-Kaap.

Dít volg nadat verskeie inwoners AfriForum genader het om hulp te verleen omdat ’n misdaadvlaag dié gemeenskappe tans tref. Die gemeenskappe is bekommerd oor die toename in aanvalle oor die laaste drie maande sowel as die brutaliteit en bereidwilligheid om te moor wat daarmee gepaard gaan.

“Ons beste vooruitsig vir veiligheid in die Wes-Kaap is die gemeenskap se bereidwilligheid om eienaarskap van hul eie veiligheid te neem deur betrokke te raak by veiligheidstrukture in die gemeenskap. Veiligheid is een van die belangrikste bekommernisse van alle persone, gesinne en ondernemings. Daarom is dit vir AfriForum van kardinale belang om buurtwagte te stig waar daar ’n behoefte is. ’n Buurtwag verskaf ’n struktuur en deskundiges wat lede kan oplei, bemagtig en ondersteun,” sê Raymond Hohls, operasionele bestuurder van gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

Mark Kuys, inligtingsbestuurder vir gemeenskapsveiligheid by AfriForum, is van mening dat vroegtydige kommunikasie en die deel van inligting op alle vlakke ’n groot komponent van bemagtiging is. “Daarom is dit belangrik dat ons op ’n doeltreffende, doelbewuste en volhoubare manier bewustheid onder gemeenskappe aanwakker om hulself te beveilig. Ons moet proaktief optree, en dit vereis gedeelde doelwitte, deeglike beplanning, beheerste uitvoering en samewerkingsooreenkomste met verskeie rolspelers.”

Klik hier om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings