|

Keimoes-buurtwag trek verdagte vas

AfriForum se Keimoes-buurtwag het op 6 Julie ’n noodboodskap ontvang vanaf een van dié buurtwag se bestuurslede, Meisie Pool, dat daar by twee van hul lede in Malanshoek ingebreek is.

Pool het die polisiestasie gekontak en adjudant Bollie Jacobs het die telefoon geantwoord. Die polisie is gevra om te help en lede van die buurtwag het ook ’n soektog na die verdagtes van stapel gestuur.

’n Inwoner van Malanshoek het ’n man met ’n Voortrekkerbaadjie aan wat ’n groen waterpyp gedra het, opgemerk. Dié inwoner het die verdagte gekonfronteer en die buurtwag gekontak. Na verdere ondersoek is ’n klomp tuingereedskap, waaronder ’n kruiwa, gevind waar dit agter bosse versteek was. ’n Koelsak gevul met ’n verskeidenheid goedere, insluitend twee vyfliter-verfblikke, is ook gevind.

Die buurtwag en een van die lede se werkers het die soektog voortgesit, die verdagte vasgetrek en ’n foto van hom geneem. Die verdagte was egter aggressief en het van die voertuig afgespring en weggehardloop. Daarna is dié foto, met die verdagte se gesig verbloem, op verskillende groepe versprei.

’n Buurtwaglid wat die foto van die verdagte gesien het, het die baadjie herken as een van die items wat onlangs tydens ’n inbraak by haar woning gesteel is. Die eienaar van die gesteelde goedere wat in die veld gevind is, is van die polisiestasie af gekontak en sy het bevestig dat dit wel haar eiendom was. Die plaaslike polisie het die soektog voortgesit en die verdagte vinnig opgespoor aangesien hy steeds die gesteelde baadjie aangehad het.

Die verdagte het erken dat hy die baadjie tydens die inbraak gesteel het en het verder gesê dat daar twee ander persone by die inbrake betrokke was. Die polisie het daarna die verdagte gearresteer en toegesluit.

“Ek bedank graag al die rolspelers wat die verdagte help vastrek het. Dankie vir julle vinnige optrede. Dit laat ons as gemeenskap veiliger voel,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap.

Soortgelyke plasings