|

AfriForum beplan regsaksie ná verwerping van e-posse oor onteiening

AfriForum het sy regspan vandag opdrag gegee om ondersoek in te stel nadat verskeie mense AfriForum ingelig het dat hulle e-posse aan die parlementêre ad hoc-komitee oor die wysiging aan die Grondwet om vir onteiening sonder vergoeding voorsiening te maak, geblok word.

AfriForum verwelkom verder die parlement se besluit om die tydperk vir skriftelike voorleggings tot einde Februarie te verleng, en die organisasie sal nie net met sy veldtog in hierdie verband voortgaan nie, maar sal ook verdere regsaksie oorweeg weens verskeie gebreke in die proses.

AfriForum het reeds in 2018 aansoek om ’n hofbevel gedoen dat die grondwetlike hersieningskomitee se verslag – wat aanbeveel dat die Grondwet gewysig moet word – tersyde gestel moet word as gevolg van verskeie ongerymdhede met die opstel van dié verslag. Hierdie aansoek behoort later vanjaar voor die hof te dien.

Volgens Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, sal AfriForum se veldtog teen onteiening sonder vergoeding binne en buite Suid-Afrika voortgaan. “As die regering nie die vermoë het om die publiek se insette sonder onreëlmatighede in te samel nie, kan ons nou al weet die proses om grond sonder vergoeding te onteien, sal ook met onreëlmatighede deurspek wees,” sê Roets.

AfriForum doen ’n beroep op lede van die publiek wie se skrywe aan die parlement geblok is, om hulle inligting vir AfriForum te stuur na ledesake@afriforum.co.za.

AfriForum moedig mense ook aan om die petisie teen onteiening te teken by www.onteiening.co.za.

Soortgelyke plasings