|

Teenboelieveldtog: Limpopo-leerders pen gedagtes oor afknouery neer

AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 18 en 19 Julie vyf skole in Polokwane en Tzaneen besoek en bykans 6 000 leerders in hierdie kort tydperk met hul praatjie bereik. Tydens die skoolbesoeke het leerders briewe vir die AfriForum-span agtergelaat waarin hulle anoniem hul denke oor boeliery neergepen het.

Luidens een van die leerders se briewe vind boeliery gereeld by hoërskole plaas “omdat ons op ’n kwesbare en onsekere ouderdom is. Op hoërskool leer ons onsself en die wêreld ken. Bewusmaking help ons om onsself voor te berei vir die grootmens wêreld.” Volgens ’n ander leerder is bewusmaking van boeliery nodig om te verseker dat die welstand van beide die boelie en slagoffer ondersoek word. Nog ’n leerder het geskryf dit is noodsaaklik vir kinders om die tekens van boeliery te sien, want baie kinders is in vriendekringe waar hulle nie altyd besef “dat hulle die grap van die groep is nie”.

Skole wat besoek is, is Laerskool Pietersburg en HTS Tom Naudé in Polokwane asook Laerskool Tzaneen, Merensky Landbou Akademie en Hoërskool Ben Vorster in Tzaneen.

AfriForum bemagtig skole landwyd met dié veldtog vir die afgelope sewe jaar deur hoop te skep en om kinders aan te moedig om mekaar met die nodige wedersydse erkenning en respek te hanteer. Die veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Leerders moet weet wat boeliery behels en dat dit van konflik verskil. Kinders is ook nie altyd seker dat die gedrag waaraan hulle blootgestel word as boeliegedrag beskou word nie,” sê Louis Vosloo, departementshoof van opvoedkundige leiding by Laerskool Tzaneen.

Jacques Vosloo, departementshoof van lewensoriëntering by Merensky Landbou Akademie, meen dat party leerders soms nie eers besef dat hulle besig is om ander te boelie nie – hulle moet touwys gemaak word oor hoe om mense reg te behandel.

“Sosiale media is problematies. Afknouery vind na ure plaas en word dan uiteindelik die skool se probleem,” sê Willie Steenkamp, skoolhoof van Laerskool Tzaneen.

Stappe vir ouers om hul kinders te help:

  • Kommunikasie met die kind: Dit is belangrik vir jou as ouer om te luister, want dit sal jou help om jou kind se gevoelens en ervarings te verstaan. Skep vir jou kind ’n veilige ruimte waar hulle gemaklik voel om oor hulle ervarings met boeliery te gesels sonder enige vrees vir oordeel.
  • Dokumenteer: Dokumenteer en hou boek van enige voorval, insluitend datums, tye, plekke en inligting van betrokke persone. Hierdie inligting kan uiters waardevol wees wanneer ’n voorval met die skool bespreek word, want dit dien as bewyse.
  • Kommunikasie met die skool: Kontak jou kind se klasonderwyser of die skoolhoof om die situasie te bespreek. Verskaf volledige inligting van die boeliery wat plaasgevind het en dien enige nodige dokumentasie of bewyse in. Vra vir ’n opvolgplan en gereelde terugvoer oor die vordering van sake.

Vir meer inligting oor AfriForum se Teenboelieveldtog en om die teenboelie- en kuberboeliegids gratis af te laai, besoek www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings