|

THANDI MODISE: VERHOOR GAAN IN APRIL 2021 VOORT

Thandi Modise, speaker in die parlement, was vandag vir die tweede dag in ’n ry in die beskuldigdebank in die Potchefstroomse Streekhof met betrekking tot haar verhoor op aanklagtes van dieremishandeling nadat meer as 200 diere weens wanvoeding in 2014 op haar plaas uitgesit moes word. Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, vervolg Modise privaat namens die Nasionale Raad van die Dierebeskermingsvereniging (NDBV). Die saak is vandag uitgestel tot 13, 14 en 15 April 2021.

Die vervolgingspan het vandag drie getuies geroep: Dustin Wetdewich (redakteur van die Potchefstroom Herald), dr. Sameer Abbas (die veearts wat na die toneel uitgeroep is) en Pieter Ferreira van Aswegen (’n voerverskaffer wat in 2014 voer aan die plaas Modderfontein verskaf het).

Die beskuldigde se regspan, onder leiding van adv. Dali Mpofu, het egter geargumenteer dat hulle nie bewus was dat die privaatvervolgingseenheid vandag vir dr. Abbas as ’n deskundige getuie gaan roep nie en dus nie hul eie deskundige in die hof het om Modise se regspan by te staan nie. Dít ten spyte van die feit dat adv. Nel gister in die hof aangedui het dat hy ’n veearts gaan roep en ook dr. Abbas se deskundige weergawes aan die beskuldigde se regspan geopenbaar het. Adv. Mpofu kon ook nie sy aanvanklike stelling – dat die privaatvervolgingseenheid ingevolge die Strafproseswet die teenkant 14 dae kennis moes gegee het dat hulle ’n deskundige getuie wil roep – staaf nie. Dr. Abbas kon dus nie vandag voortgaan met sy getuienis nie omdat die beskuldigde se regspan nie gereed was om hom te kruisondervra nie. Hy sal in April na die getuiebank teruggeroep word.

Volgens Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, is die hofdag gebruik vir toesprake en het die beskuldigde se regspan geen duidelike verweer geopenbaar nie. “Die klagtes teen me. Modise handel oor dieremishandeling en haar regspan het geen verduideliking daarvoor verskaf nie. Die vervolgingspan sal egter voortgaan om op die relevante meriete van die saak te konsentreer.”

Die voerverskaffer Van Aswegen het getuig dat hy reeds in November 2013 opgemerk het dat die varke te min voer het en die plaaswerker geadviseer het om die diere se voerbakke vol te hou. Volgens Van Aswegen sou dit die diere, wat reeds besig was om te verhonger en na kannibalisme gedryf is, se toestand met betrekking tot wanvoeding verbeter het.

Soortgelyke plasings