|

AfriForum se Rayton/Cullinan-tak rig AfriForum Wêreld borde op

Die AfriForum-tak in Rayton/Cullinan het op 10 November, Welkom in AfriForum Wêreld-borde in die area opgerig. Hierdie borde dien as bewusmaking van AfriForum se teenwoordigheid in die area en dat die organisasie besig is met projekte om die algehele netheid en veiligheid van die gemeenskap te verbeter – drie borde is opgerig.

AfriForum se Rayton/Cullinan-tak het reeds gedurende die jaar verskeie projekte aangepak, een van hierdie projekte was die skoonmaak- en grassnyprojek wat op die R515 langs die brug tussen Suid- en Jennerstraat in Rayton van stapel gestuur is.  Dit het gevolg ná misdaad in hierdie area toegeneem het. 

Die tak hoop dat hierdie nuwe borde die gemeenskap sal aanmoedig om meer betrokke te raak by die veiligheidstrukture asook by projekte wat aangepak word.

“AfriForum sal aanhou om ons strukture te versterk en hoop in gemeenskappe te skep deur projekte aan te pak wat ’n daadwerklike verskil in die area maak.  Hierdie borde is deel van ’n projek wat AfriForum regdeur die Tshwane-area wil uitvoer.  Dit is belangrik dat hierdie borde bewusmaking skep vir die gemeenskap en dat die gemeenskap hande sal neem met die plaaslike strukture om saam groter projekte aan te pak. sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

Die tak beplan om verskeie groot projekte gedurende die nuwe jaar aan te pak en wil graag die gemeenskap uitnooi om aan hierdie projekte deel te neem.  Besoek gerus die AfriForum-tak in Rayton/Cullinan se Facebook-blad vir meer inligting oor toekomstige projekte.

Raak vandag nog by AfriForum se Rayton/Cullinan-tak betrokke om ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak: SMS jou naam na 45341 (R1).

Soortgelyke plasings