|

Uitslae bevestig water in Keimoes nie geskik vir menslike gebruik nie

Hoë vlakke van E.coli asook fekale koliforme is teenwoordig in watermonsters wat op 27 Desember in Keimoes geneem is. Die uitslae op 29 Desember het bevind dat dié water nie geskik is vir menslike gebruik nie. Watermonsters is op drie verskillende punte in die Keimoes-distrik geneem.

Die AfriForum-tak in Keimoes het die water laat toets nadat inwoners bekommerd was dat die water ’n onnatuurlike kleur en reuk het.

“Dit is ’n basiese mensereg om toegang tot skoon en drinkbare water te hê. Hierdie uitslae wys opnuut dat die Kai !Garib Plaaslike Munisipaliteit nie hulle plig nakom nie en ook klaarblyklik nie besorg is oor inwoners se gesondheid nie,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.

Strauss doen ’n beroep op inwoners om nie die kraanwater te drink sonder om dit minstens te kook nie terwyl die probleem opgelos word. “AfriForum sal verdere stappe ondersoek indien die munisipaliteit nie binne 24 uur ’n aanduiding gee dat hierdie probleem hulle aandag geniet nie.”

“Die toestand van die drinkwater in Keimoes is net nog ’n voorbeeld op ’n lang lys van die algehele munisipale verval wat die Noord-Kaap tans beleef. Dit wys opnuut dat sentralisering nie ’n oplossing is nie maar net sal lei tot verdere verval,” sluit Strauss af.

Besoek www.wordlid.co.za om by jou naaste tak aan te sluit en só ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak.

Soortgelyke plasings