|

AfriForum-tak plant bome by Hoërskool Delportshoop

AfriForum se Delportshoop-tak het op 14 September ’n boomplantdag by die Hoërskool Delportshoop gehou ter bewusmaking van die belangrikheid van bome in die gemeenskap. Gedurende hierdie geleentheid is daar twee Australiese waterbessie-bome (Syzygium Paniculatum) geplant, wat deur ’n lid van die gemeenskap aan die Delportshoop-tak geskenk is.

Leerders in graad 1 en 11 het hierdie boomplantdag bygewoon waartydens hulle meer geleer het oor die betekenis en ontstaan van Nasionale Boomplantdag. Die leerders het die geleentheid gehad om vrae te beantwoord, terwyl daar ook geskenke aan ses leerders uitgedeel is vir hul deelname aan hierdie boomplantdag.

Die leerders was baie opgewonde oor dié projek en het gehelp om die bome (Australiese waterbessie) te plant.  Daar is ook met baie optimisme vrae gevra en belangstelling getoon in die bome wat geplant is.

“Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsels of ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron – bome is ’n simbool van lewe. Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die AfriForum-tak in Delportshoop onderneem om hierdie sorg te verskaf,” meen Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap.

Soortgelyke plasings