Water
|

Vaalharts-tak neem deel aan vergadering met parlementskomitee

AfriForum se Vaalharts-tak het op Donderdag 30 Maart in Hartswater aan die vergadering van die Parlement se Openbare Komitee oor Samewerkende Regering en Tradisionele Sake deelgeneem.

Die komitee het ’n sitting met rolspelers van die Phokwane Plaaslike Munisipaliteit in die Hartswater stadsaal gehad. Dit het aan lede van die gemeenskap die geleentheid gegee om kwessies te opper oor ondersteuning, die gehalte van dienslewering en ander kwessies rakende die munisipaliteit aan te spreek.

“AfriForum is tien minute voor die vergadering eers daarvan ingelig, ons kon dus nie voor die tyd geskrewe kommentaar indien nie maar ons het tydens die sessie ’n spreekbeurt gekry om uitdagings wat die gemeenskap ervaar onder die komitee se aandag te bring,” sê Lize-Mari van der Linden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.

Die 2020/21 Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA) se oudituitkomste het ’n aantal munisipaliteite uitgelig wat agtereenvolgende ouditmenings ontvang het ten spyte daarvan dat hulle onder grondwetlike ingryping was. ’n Diskrete ouditmening is die slegste mening wat ’n munisipaliteit kan kry.   

Hierdie munisipaliteite word ook deur die ouditeur-generaal ondersoek as gevolg van wesenlike onreëlmatighede wat tydens die oudit geïdentifiseer is. Dit is nie verbasend dat hierdie munisipaliteite ook onder die 64 munisipaliteite is wat deur die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake se verslag, oor die stand van plaaslike regering aan die kabinet, as wanfunksioneel geïdentifiseer is nie.   

Phokwane Plaaslike Munisipaliteit is deur die komitee identifiseer as gevolg van herhaalde vrywarings, die impak wat dit op die lewensvatbaarheid van die munisipaliteit het en die uitwerking van dienslewering aan gemeenskappe. 

“Ons verwelkom ook mnr. Tebogo Africa, burgemeester van die Phokwane Plaaslike Munisipaliteit se terugvoer dat rolspelers in die gemeenskap hom sonder ’n afspraak kan besoek om kwessies te bespreek as deel van sy oopdeurbeleid. Ons as AfriForum het klaar ’n skrywe aan hom gerig om wel ’n afspraak te maak om die kwessies te bespreek en hoop om ’n datum vas te maak om elke maand met hom te vergader,” sluit Van der Linden af. 

Soortgelyke plasings