|

Skole, onderwysers, ouers en leerders moet proaktief optree teen seksuele boeliegedrag

Aangesien dit duidelik is dat  die strafregstelsel slagoffers van seksuele misdrywe in die steek laat, raai AfriForum skole, onderwysers, ouers en leerders aan om proaktief teen seksuele boeliegedrag op te tree. Dit volg ná beriggewing, asook Angie Motshekga, minister van Basiese Onderwys, se reaksie in die parlement verlede week oor die toename van seksuele misdrywe in Suid-Afrikaanse skole.

Die afgelope drie jaar is meer as 452 sake van seksuele wangedrag aan die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (SARO) gerapporteer.  Die 2022 misdaadstatistiek toon onder meer dat 294 van die verkragtings wat gerapporteer is, op die persele van onderwys- en opvoedkundige instellings plaasgevind het.

“Hierdie syfers is kommerwekkend en dit is belangrik dat hierdie gevalle deeglik ondersoek word. In Suid-Afrika is seksuele misdade en boeliegedrag daagliks besig om toe te neem. Skole moet ’n veilige hawe vir kinders, sowel as vir onderwysers wees, waar daar op akademie gefokus kan word. Veilige skole sorg ook vir veilige gemeenskappe, nie net nou nie, maar ook in die toekoms,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Hierdie statistiek bewys dat die president, minister van Justisie,  Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die howe se belofte om sake van geslagsgebaseerde geweld en seksuele misdrywe met minderjarige slagoffers te prioritiseer, slegs lippediens aan die publiek is,” sê adv. Phyllis Vorster van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Vorster meen dat die Onafhanklike Klagtedirektoraat ’n dossier moet saamstel waarin hulle die volgende vrae beantwoord:

  • Wat het hulle gedoen om behoorlike behandeling en diens by familiehowe te verseker?
  • Wat het hulle gedoen om die bevoegde vervolging van geslagsgebaseerde geweld aangeleenthede te verseker?
  • Wat het hulle gedoen aan die huidige pandemie van geslagsgebaseerde geweld en seksuele oortredings waar die slagoffers minderjarig is?

“Die toepassing van die wet in skole is dissiplinêre aksie. Ons siening is dat ons moet verseker dat die wet voorspelbaar word. As die wet voorspelbaar is en daar  ’n voorspelbare uitkoms is wanneer oortredings begaan word,  sal dit ’n goeie afskrikmiddel wees. Die wet moet dan ook van toepassing op beide die oortreder en die slagoffer wees om valse beskuldigings te voorkom,”  voeg Vorster by.

“Kinders sal nie noodwendig sê wanneer hulle ’n slagoffer van seksuele geweld is nie, maar ouers en onderwysers mag moontlik tekens opmerk en moet dus kennis dra wat die tekens kan wees sodat dadelik opgetree kan word om insidente van die aard stop te sit of te voorkom. Dit  sluit fisiese aanduidings soos onverklaarbare kneusplekke of emosionele tekens soos veranderinge in gedrag in. Sommige kinders toon dalk net subtiele tekens, en sommige kinders sal dalk selfs geen aanduidings gee nie, maar ouers moet aan die kommunikasie en vertrouensverhoudings tussen hulle en hulle kinders werk sodat die kinders gemaklik sal voel om enige gebeure van dié aard aan hulle te noem,” sê Bräsler.

Tekens van seksuele mishandeling by kinders sluit onder meer die volgende in:

  • Huil vir geen spesifieke rede nie;
  • Lyk bang of toon tekens van angstigheid of depressie;
  • Kla oor maagpyn, kopseer of naarheid;
  • Vra vrae soos “moet mense geheime hou?”;
  • Isoleer hulself van vriende of ander mense;
  • Toon skadelike seksuele gedrag;
  • Verandering in slaappatrone (slaap baie meer of slaap baie minder);
  • Verandering in eetpatrone (verloor drasties gewig of tel drasties gewig op) en
  • Akademiese punte wat verswak.

Dit is belangrik vir skole, onderwysers, ouers en leerders om proaktief op te tree en om enige vorm van boeliegedrag hok te slaan. Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog, besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings