Vaalrivier en belastingbetalers betaal nou die prys vir munisipale wanbestuur – AfriForum


Die burgerregte-organisasie AfriForum sê dat die R873 miljoen wat nodig is om die Vaalrivier van rioolbesoedeling te red, voorkom kon gewees het en dat dit waarskynlik nie ’n blywende oplossing bied nie. Die weermag het einde 2018 by die Vaalrivierkrisis ingegryp en reeds miljoene daar bestee sonder om daarin te slaag om die probleem naastenby op te los.

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum, sê al hierdie geld en moeite kon voorkom gewees het indien die plaaslike munisipaliteite in Emfuleni (Vanderbijlpark) en Ngwathe (Parys) bevoeg was en hul werk gedoen het. “Nou moet die weermag ten duurste met belastingbetalersgeld ingryp om voorkombare rioolprobleme op te los.
“Emfuleni is verlede jaar onder administrasie geplaas en het in alle opsigte ineengestort. Die munisipaliteit verwyder byvoorbeeld weekliks die vullis by slegs die helfte van huishoudings in die gebied.”
Brink sê die ANC en ander vlakke van regering moet pa staan vir Emfuleni se probleme en die skade wat dit aan een van Suid-Afrika se mees prominente riviere aangerig het. “AfriForum het verlede jaar begin om die situasie te help beredder deur middel van aktivisme, die indien van strafregtelike klagtes en die vrystelling van goeie bakterieë om die riool af te breek. Ons gaan voort om op allerlei maniere druk toe te pas.”
“Die Emfuleni-munisipaliteit was deurgaans onwillig om enige samewerking te bied of om selfs ons memorandum te aanvaar. Sonder die nodige aanspreeklikheid en bevoegdheid gaan daar voortdurend miljoene rande na die probleem gegooi word sonder enige sukses. Sodra die weermag vertrek, gaan die probleme net weer kop uitsteek,” sluit Brink af.

Soortgelyke plasings