|

Van sekuriteit tot landbou en byna alles tussenin: Bykans eindelose moontlikhede met nuwe studietrust vir hommeltuigopleiding

Skuts raap sowat R600 000 in pryse op by bielie van ’n skietdag

Die AfriForum-veiligheidstudietrust wat vandag by die eerste Skerpskutskietdag buite Pretoria bekendgestel is, sal jaarliks aan minstens ’n dosyn studente toegang tot ’n snelgroeiende wêreld van hommeltuigtegnologie en talle beroepsmoontlikhede bied. Dié trust, met ’n beginwaarde van R200 000 sal studente in staat stel om ’n hommeltuiglisensie (oftewel ’n RPC) en ’n graad E- tot C-Psira-kwalifikasie te bekom. Met dié lisensie en kwalifikasies van die reguleringsowerheid vir die privaat veiligheidsbedryf (Psira) sal hommeltuigvlieëniers hul kennis in uiteenlopende bedrywe kan toepas, vanaf landbou en sekuriteit tot mynbou, rampbestuur en reddingsoperasies.

Volgens Wimpie Vogel, bestuurshoof van besigheidsontwikkeling by AfriForum, is die vestiging van dié studietrust ’n hoogtepunt van Forum Sekuriteit, AfriForum se privaatsekuriteitsmaatskappy, se eerste Skerpskutskietdag – ’n geleentheid waarby skuts boonop nagenoeg R600 000 in pryse losgeskiet het. “Die doel van die Skerpskutskietdag is onder meer om ’n ruimte te bied waar die gemeenskap en die industrie oor veiligheid kan ontmoet. Die harde werklikheid van misdaad laat ons met ’n reuseverantwoordelikheid om verstandig met veiligheid, veiligheidsopleiding en vuurwapengebruik om te gaan. Daarom is die aanbied van ’n skietdag en die bekendstelling van ’n studietrust wat veral toegespits is op hommeltuiggebruik in die veiligheidsbedryf, maar wat ook in ander bedrywe toegepas kan word, ’n logiese én waardevolle kombinasie,” verduidelik Vogel.

Oor die besluit om juis ’n studietrust vir hommeltuigopleiding op die been te bring, is Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, duidelik: “In ’n veranderende wêreld, is dit noodsaaklik om voor te bly,” verduidelik hy. Solidariteit Helpende Hand se Studietrust, met sy bewese suksesrekord in dié bedryf, sal dié nuwe studietrust administreer.

“Hommeltuigopleiding bied nie net ’n opwindende nuwe rigting vir studente nie, maar ook ’n kritieke vaardigheid wat in die toekoms al hoe belangriker sal word,” sê Noëth. “Deur hierdie trust, skep ons ’n platform vir jong mense om hulself toe te rus met die kennis en vaardighede wat nodig is om in hierdie veld te presteer. Hommeltuigopleiding is nie net ’n nuwe rigting vir ons studietrust nie, dit is ’n sprong in die toekoms in. Hiermee sal ons studente in staat stel om hulself te vestig in ’n veld wat by die dag meer relevant word. Solidariteit Helpende Hand is trots om deel van hierdie innoverende onderneming te wees.”

Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder oor veiligheid, verduidelik dat geleenthede soos vandag se Skerpskutskietdag ’n belangrike behoefte in die huidige Suid-Afrikaanse milieu vervul. “Goedopgeleide, georganiseerde gemeenskappe speel ’n doeltreffende rol in die bekamping van misdaad en daarom is dit belangrik vir meer mense om aktief betrokke te raak by veiligheidsinisiatiewe. Hierdie geleenthede maak juis die deur oop vir mense wat betrokke wil raak of meer wil uitvind. Dit is ’n wonderlike geleentheid vir die publiek om met kenners te gesels, opleiding te ontvang en gemeenskapsbande te versterk,” meen Broodryk.

Vandag se Skerpskutskietdag is die eerste van sy soort en daar word reeds aan aanstaande jaar se skietdag beplan. “Die Skerpskutskietdag gaan ’n jaarlikse instelling word op die kalenders van vuurwapenfanatici en die breër gemeenskap wat erns neem met veiligheid,” verduidelik Vogel. Deelnemers aan die skietdag het vandag hul vernuf op minstens tien skietbane ten toon gestel, ’n wye verskeidenheid wapens van vooraanstaande vervaardigers uitgetoets en teikens behoorlik met gepeper met lood uit die lope van verskeie handwapens en donshael uit kragtige haelgewere. Groot pryse, waaronder vuurwapens, teleskope, nagsigtoestelle en verkykers, ter waarde van ’n totaal van nagenoeg R600 000, is opgeraap en het van die Skerpskutskietdag een van dié grootste skietgeleenthede nóg gemaak.

Meer oor die hommeltuigopleiding

  • Opleiding word gefasiliteer deur die opleidingsinstelling FSAT.
  • Die duur van opleiding wissel vanaf twee weke tot drie maande en kan voltyds of deeltyds aangepak word.
  • Studente sal opleiding ontvang om ’n hommeltuiglisensie verwerf. Dié sertifikaat is ’n voorvereiste vir alle kommersiële hommeltuigvlieëniers.
  • Studente sal voorts ook opleiding ontvang om ’n graad E- tot C- Psira-kwalifikasie te bekom wat dadelik toegang tot uiteenlopende beroepsmoontlikhede in spesifiek die veiligheidsbedryf sal bied.

Doen aansoek!

Aansoeke vir die AfriForum-veiligheidstudietrust open binnekort. Besoek gerus die webblad www.hh-studietrust.co.za vir meer inligting oor die aansoekproses en sperdatums.

Belangstellendes moet minstens 18 jaar oud wees, geen kriminele rekord hê nie, die voorgeskrewe mediese ondersoek slaag voor aanvang van die kursus en voldoen aan die minimum taalvaardigheidsvereistes (minstens ’n D-simbool in Engels op matriekvlak).

Hommeltuigvlieëniers moet voorts ook oor verskeie persoonlikheidseienskappe en ander vaardighede beskik, insluitend tegniese aanleg en begrip van die tegniese aspekte van hommeltuigstelsels; ’n oog vir detail; probleemoplossingsvaardighede; aanpasbaarheid; goeie kommunikasievaardighede; die vermoë om hoë vlakke van stres te kan hanteer; en die vermoë om in ’n span te kan werk.

Soortgelyke plasings