|

AfriForum-tak bring Delareyville 50 streepsakke nader aan ’n skoner dorp

Delareyville is nou – danksy AfriForum se Delareyville-tak en ’n span geesdriftige gemeenskapslede – 50 streepsakke nader aan ’n skoner dorp. Dié plaaslike AfriForum-tak het die afgelope naweek behoorlik skouer aan die wiel gesit en die dorp se strate op 26 Augustus ingevaar om vullis op te ruim en sypaadjies skoon te maak. ’n Totaal van 50 streepsakke vol vullis is in die proses opgeruim. Daar word boonop beplan om die aksie op ’n weeklikse basis voort te sit.

“Dit is skokkend om te sien hoe baie vullis net eenvoudig op straat uitgegooi word en niks word daaraan gedoen nie. Die munisipaliteit vaal in hul pogings om dorpe skoon te hou en daarom is besluit dat die gemeenskap self sal inspring om hul dorp skoon te maak. Hierdie projek sal as volhoubare projek aangepak word om te verseker dat die dorp skoon en netjies bly. Sodoende sal ons kan help toesien dat ons Delareyville een streepsak op ’n slag skoonmaak,” verduidelik Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

Volgens Nel is dit vir AfriForum noodsaaklik om voort te gaan om ’n daadwerklike verskil in die gemeenskap te maak. Hy moedig plaaslike besighede en gemeenskapslede aan om ook by die projek betrokke te raak en die weeklikse opruiming van Delareyville ’n realiteit te maak. “Raadslede van die Demokratiese Alliansie (DA) en talle inwoners het reeds tydens die afgelope naweek se skoonmaakprojek met AfriForum hande geneem. Ons kan nie meer sit en wag vir die munisipaliteit om dit te doen nie. Dit het nou tyd geword om self te doen,” sê Nel. Hy moedig daarom gemeenskapslede aan om vandag nog by AfriForum se takke betrokke te raak, en sodoende te help om die omgewing te beveilig en op te knap.

Soortgelyke plasings