| |

Veilige hantering en ontsmettingsprosedures vir COVID-19

Deur Thomas van Dalen

Die uitbreking van die koronavirus het die belangrikheid van steriele leefmetodes op sowel die internasionale as plaaslike front beklemtoon. COVID-19 het ’n ingrypende uitwerking op almal se lewens en die belangrikheid van handontsmetting, asook die nodige maatreëls om jouself teen druppel-oordraagbare infeksies te beskerm is hoofnuus. Nasionale gesondheidsorganisasies wat verantwoordelik is vir die beheer van die pandemie misken die navorsing wat reeds in 2003 gedoen is ná die uitbreking van die SARS-virus. Daar bestaan baie ooreenkomste tussen die SARS- en die koronavirus. Na aanleiding van navorsing wat in China gedoen is, het dit duidelik geword dat daar baie gevalle van “nie-kontak”-infeksie bestaan het. Hierdie maatreëls gaan nog vir ’n baie lang tyd deel van ons alledaagse bestaan wees. Vir die doel van hierdie artikel is dit nodig dat sekere aannames gemaak moet word om die rede vir die prosedures te regverdig.

Volgens navorsing wat in 2009 deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) gedoen is kan virale infeksies binnemuurs oor redelik groot afstande oorgedra word en dus kan infeksies baie vinnig versprei. Volgens dié navorsing verdamp die vloeistofinhoud van die druppels baie gou ná uitaseming en is die mis so fyn dat dit op die geringste luggolf versprei sonder dat dit afsak grond toe. Hierdie fyn mis kan die virale inhoud daarvan letterlik 10 m tot 20 m vanaf die geïnfekteerde persoon versprei.

Internasionale aanbevelings

Navorsers beveel aan dat die volgende maatreëls getref word om verspreiding van die virus te keer:

  • Skep van goeie ventilasie in binnenshuise areas;
  • Gebruikmaking van natuurlike ventilasie – vensters en deure ens.;
  • Vermy hersirkulasie van lug;
  • Beweeg weg uit ander persone se direkte “lugvloei” (uitaseming ens.);
  • Beperk die aantal persone wat ’n omgewing deel; en
  • Fokus op voldoende ventilasie, spesifiek in ouetehuise, hospitale, winkels, kantore en skole.

Aannames

  • Virusse word via oppervlaktes en aktief geprojekteerde druppels oorgedra en nie soseer deur missproei nie (behalwe in beperkte ruimtes en spesifieke gesondheidsorgsituasies), hoewel dit vir tot so lank as drie ure in die lug kan bly hang.
  • By kamertemperatuur leef die virus vir 24 uur op papier en karton en 72 uur (3 dae) op metaal en plastiek.
  • Elke keer as iemand die huis verlaat of aan enigiets raak wat blootgestel is, is dit ’n geleentheid om infeksie te versprei.
  • Individue kan die virus versprei nog voordat hulle enige simptome toon.
  • Sommige individue (veral kinders en jonger volwassenes) kan draers van die virus wees sonder om simptome te toon gedurende die hele infeksietydperk.

Ontsmetting

Daar is baie chemikalieë wat aanvaar word vir kommersiële ontsmetting van die virus, maar ondergenoemde is die geredelik beskikbaarste vir tuisgebruik:

  • Seep en water – skrop en spoel die hande deeglik vir ten minste 20 sekondes om die dubbele vetlaag van die virus te vernietig.
  • 70% alkohol (isopropanol of etanol) – wend vloeistof of jel eweredig aan, laat lugdroog en vryf eweredig in hande in.
  • 10% verdunde bleikmiddel (>0,1% natriumhipochloried) – versprei eweredig en laat lugdroog.
  • Let daarop dat slegs middele wat veilig is vir gebruik op die vel of voedselprodukte aangewend moet word! Sommige van die middele is hard op jou vel en daarom is dit belangrik om ’n bevogtigende room ook op jou vel aan te wend.

Vermyding van druppelbesmetting wanneer in die publiek beweeg word

  • Aangesien die virus deur druppels oorgedra word, moet daar vermy word dat jy die virus self opdoen deurdat druppels ingeasem word, dat jy dit aanraak, dat dit op jou slymvliese oorgedra word of dat jy druppels op jou vel of persoonlike besittings kry.
  • Dra ’n masker as jy uitgaan in die publiek. Tuisgemaakte lapmaskers kan selfs soveel as 50% of meer van die uitgeasemde sproei blokkeer. Moenie aan jou gesig en veral slymvliese (oë, mond, neus) raak nie. Gewone katoen dien as die beste filtreermateriaal.
  • Handhaaf ten minste ’n afstand van 2 m van ander mense.
  • Vermy kontak met persone wat hoes of nies.
  • Wees bedag op waaraan jy raak (motorsitplek, stuurwiel, selfoon, beursie, sleutels, inkopiesakke, deurhandvatsels, ens.). Ontsmet al hierdie items en oppervlaktes sodra jy tuis kom.
  • Ontsmet jou hande wanneer jy in die motor klim voordat jy aan die stuurwiel, rathefboom of enige ander kontroles raak.

Maatreëls vir toegang tot woning ná potensiële infeksie

Hierdie prosedure is daarop gerig om enige druppels wat moontlik op jou liggaam, klere of besittings wat tydens enige openbare aanraking opgedoen is, te verwyder:

  • Was hande of ontsmet voordat jy die huis binnegaan;
  • Trek skoene uit en los by die deur;
  • Moenie enige persoon in jou huishouding aanraak of toelaat om jou aan te raak nie (kinders en eggenote);
  • Verwyder alle bo-klere onmiddellik ná binnekoms en plaas dit direk in die wasmasjien. Was soos gewoonlik met poeierseep en warm water. As jy nie klere kan was nie, moet jy dit vir ten minste 24 uur of langer in ’n plastieksak hou. Items van leer, plastiek of rubber moet vir ten minste 72 uur op dié manier geberg word.
  • Klere kan ook in ’n tuimeldroër op warm verstelling geplaas word.
  • Was hande en/of gaan stort, afhangend van die potensiële blootstelling. Gebruik seep en water om blootgestelde oppervlaktes skoon te maak, insluitend sjampoe om hare te was.
  • Onthou om krane, deurknoppe, hysbakknoppies, asook jou sleutels, selfoon, beursie, ens. te ontsmet.
  • Gebruik papierhanddoeke om hande te droog. Vervang daagliks lapdoeke en handdoeke. Moenie handdoeke deel nie, tensy almal vir minstens ’n week in die huis geïsoleer is sonder simptome.

Hantering van aflewerings, kruideniersware, pos en wegneemetes

  • Laat items by die voordeur/ingang sonder dat enigiemand in jou huishouding daaraan raak.
  • Laat niebederfbare items vir ’n ruk in die son, aangesien UV en hitte die virus
  • Moenie items direk by die persoon wat die aflewerings doen, vat nie. Laat die persoon dit neersit en wag dat hy ten minste 2 meter weg is voordat jy nader gaan. Jy kan dan die items met ’n skoon doek/lap wat in ’n flou Jik-oplossing gedoop is, afvee.
  • Kartondose, pakkies en pos: Indien moontlik, plaas dit op ’n veilige plek en laat dit daar ​​vir ten minste 24 uur (karton) of 72 uur (plastiek) voordat jy dit oopmaak.
  • As die items oopgemaak moet word voordat die kwarantynperiode verstryk het, plaas die inhoud op ’n skoon en wasbare oppervlak sonder om aan die inhoud te raak. Gooi dan die houer/karton waarin dit verpak was weg en was jou hande voordat jy aan enige van die items raak. Ontsmet alle items wat in die pakkie was deur dit met ’n ontsmettingsmiddel te spuit of met ’n lap wat in ’n Jik-oplossing gedoop is, af te vee.
  • Ontsmet enige deurknoppe, krane, asblikke of ander items waaraan jy geraak het.

Kruideniersaflewerings

  • Bring sakke in die huis, sit op ’n oop wasbare oppervlak (gewoonlik die vloer) en was hande voordat jy uitpak.
  • Haal skoon sakke uit vir voedselkwarantyn. Papierkruideniersakke is die beste materiaal.
  • Wys een “skoon” hand en een “vuil” hand aan. Gebruik die “vuil” hand om voedselitems na skoon “kwarantynsakke” oor te plaas, en skei items in verskillende sakke as dit in die yskas/vrieskas/kamertemperatuur geberg word, terwyl jy die skoon “kwarantynsakke” met jou skoon hand manipuleer.
  • Kamertemperatuur-items: sorteer items in skoon “kwarantynsakke” en stoor dit vir 24 tot 72 uur voor gebruik, afhangend van die tipe oppervlak. As jy sekere items vroeër moet gebruik, moet jy die buitekant van die voorwerpe ontsmet, of die inhoud op ’n skoon oppervlak uitgooi sonder om aan die inhoud daarvan te raak, en wegdoen met die verpakking. Was hande.
  • Verkoelde items: studies oor ander verwante virusse dui daarop dat die virus moontlik langer kan oorleef in die yskas, dus mag kwarantyn van drie dae in die yskas moontlik onvoldoende wees. Vee die items af met ’n doek wat in ontsmettingsmiddel gedoop is.
  • Items wat in ’n fabriek verpak is: ontsmet die buitekant van die houers. Was hande en plaas dit in die yskas. Geen verdere kwarantyn is nodig nie. (Voorbeelde: melk, kaas, eiers ens.)
  • Kruideniersware: ontsmet die buitekant van die pakkies of dra die inhoud in skoon houers sonder om aan die inhoud te raak, en gooi die verpakking weg. Was hande en plaas dit in die yskas. Jy kan ’n verdere kwarantynperiode in die yskas toepas. (Bv. vleis uit die vleistoonbank of in plastiek-toegedraaide bakke, gesnyde en toegedraaide kaas, ens.)
  • Vars vrugte en groente wat geskil word: gooi die inhoud direk in ’n groot bak en gooi die verpakking weg. Spoel af met flou seepwateroplossing, spoel deeglik met water af en lugdroog. Was hande en plaas items in die yskas. Geen verdere kwarantyn is nodig nie. Alternatiewelik kan die inhoud uit die plastiekverpakking direk in die skoon “kwarantynsakkies” oorgeplaas word, was hande en laat die items staan ​​by kamertemperatuur vir 24 uur voordat dit in die yskas gebêre word. Geen verdere kwarantyn is nodig nie.
  • Slaai, vooraf gemaakte soesji en gesnyde deli-items moet liewers nie tydens ’n pandemie gekoop word nie. Vermy kos wat onlangs deur mense hanteer is.
  • Bevrore items: Aangesien die virus maande lank in die vrieskas kan oorleef, moet die buite-verpakking ontsmet (of veilig verwyder word) en nie net direk in die yskas geplaas word nie. Ontsmet die buitekant van bevrore voorwerpe voordat jy dit in die vrieskas plaas. Alternatiewelik, verwyder dit uit die verpakking (as daar ’n interne verpakking is, bv. bevrore pizza) en plaas dit in ’n skoon houer sonder om aan die inhoud te raak. Gooi die oorspronklike verpakking weg, was hande en bêre item in die vrieskas.
  • Plaas leë “vuil” sakke eenkant, waar dit nie langer as 24 uur (papier) of 72 uur (plastiek) gelaat word nie. Ontsmet die oppervlak waarop dit geplaas was tydens die oordrag. Was hande ná hantering.
  • Ontsmet enige deurknoppe, krane, kaste, yskasdeure, asblikke of ander oppervlaktes waaraan jy geraak het.
  • Belangrik: Indien daar ʼn kwesbare persoon in jou huishouding is (immuunonderdruk ens.), sal dit wys wees om die persoon nie aan ongekookte voedsel bloot te stel nie.

Wegneemetes en restaurantkosaflewerings

  • Bring sakke in, plaas op ’n oop wasbare oppervlak (waarskynlik die vloer) en was hande.
  • Haal voedselhouers uit die buitenste sak en plaas dit op ’n skoon, oop, wasbare oppervlak (waarskynlik die toonbank). Sit die buitenste sak in die asblik en was hande.
  • Haal skoon houers (borde, bakkies, plastiese houers, ens.), asook eetgerei uit en plaas dit op ’n skoon oppervlak weg van die voedselhouers af.
  • Wys ’n “skoon” hand en ’n “vuil” hand aan. Gebruik die “vuil” hand om die voedselhouer op te tel en gebruik ’n vurk of lepel in die “skoon” hand om die voedsel in jou skoon houer oor te skep. Gooi die vuil houer in die asblik en was hande.
  • Verhit voedsel weer in ’n mikrogolfoond, oond of op die stoof voordat jy dit eet.
  • Ontsmet enige deurknoppe, krane, kaste, yskasdeure, asblikke of ander oppervlaktes waaraan jy geraak het.
  • Ontsmet alle oppervlaktes waaraan die afleweringsdiens en voedselhouers geraak het. Was hande.

Algemene wenke vir sosialisering

  • Handhaaf ’n 2 m-afstand vanaf ander mense.
  • Gaan stap buite, maar vermy groepe mense (indien die spesifieke vlak van inperking dit toelaat). Moenie aan relings, parkbankies ens. raak waaraan ander mense geraak het nie. Indien jy met jou hond gaan stap, moenie toelaat dat jou honde met ander mense se honde sosialiseer nie, want hulle kan geïnfekteerde druppels in hul pels hê. Moet ook nie aan ander mense se honde raak nie.
  • Vermy gimnasiums, filmteaters en enige gebied waar groot groepe mense na aan mekaar beweeg of sit.
  • Groet iemand met ’n gebuigde arm en raak mekaar met die elmboog aan.
  • Hoes of nies in ’n gebuigde elmboog.
  • Die dra van Latex-handskoene moet vermy word.
  • Dra ’n masker in die openbaar. Verseker dat die masker styfpassend oor die mond en neus is. Moenie aan die masker raak terwyl jy dit dra nie. Ontsmet hande voordat jy dit op die gesig plaas en ontsmet weer hande voordat jy dit afhaal.
  • Moenie met jou hande aan jou gesig raak nie.
  • Moenie ander mense druk of soen nie.
  • Ontsmet jou motorsleutels, stuurwiel, deurknippe en rathefboom voor en ná gebruik.
  • Indien jy om welke rede ook al van chirurgiese handskoene gebruik moet maak, gebruik dit slegs vir ’n spesifieke taak, trek dit uit nadat jy die taak afgehandel het en raak daarvan ontslae op die gepaste wyse.

Soortgelyke plasings