|

Verbreek die stilte! Gee aandag aan boeliery gedurende Kinderbeskermingsweek

Deur Leandie Bräsler

Elke jaar herinner die Nasionale Kinderbeskermingsweek ons aan ons gesamentlike verantwoordelikheid om kinders se welsyn te beskerm. Hierdie jaar word Kinderbeskermingsweek van 29 Mei tot 5 Junie gehou. Onder die vele kwessies wat kinders se veiligheid en geluk bedreig, staan boeliegedrag uit as iets wat wêreldwyd plaasvind en konstant verander. Dit is noodsaaklik om gedurende hierdie belangrike week lig te werp op boeliegedrag, die impak daarvan en die stappe wat geneem kan word om dit te voorkom.

Wat is boeliery?

Boeliery is nie net ’n fase waardeur kinders gaan of ’n vorm van gedrag op ’n bepaalde ouderdom nie; dit is ’n ernstige kwessie wat langtermyngevolge vir ’n kind se geestelike, emosionele en fisiese welstand kan hê. Boeliegedrag kan gedefinieer word as skadelike of aggressiewe gedrag wat aanhoudend en deurlopend plaasvind en spesifiek gerig word op ’n leerder met minder gesag en selfvertroue as die boelie. Boeliery kan verskillende vorme aanneem, insluitend die volgende:

  • Fisiese boeliery: skop, slaan of enigiets wat fisiese skade berokken
  • Verbale boeliery: beledigings, neerhalende opmerkings en naamnoemery
  • Sosiale boeliery, ook verhoudingboeliery genoem: die verspreiding van skinderstories en gerugte of sosiale uitsluiting
  • Kuberboeliery: die gebruik van digitale platforms om ander te verneder, dreig of teister

Elke vorm van boeliery rig skade aan en beïnvloed elke slagoffer se akademiese prestasie, selfbeeld en algehele welstand nadelig.

Die impak van boeliery

Kinderslagoffers van boeliery se geestesgesondheid ly skade; hulle akademiese prestasie verswak en hulle sukkel om sosiaal te verkeer. Geestesgesondheidskwessies sluit depressie, angs en selfdoodgedagtes in. Boelieslagoffers sukkel om in die klas te konsentreer of is so dikwels afwesig dat hulle nie kan bybly met hulle skoolwerk nie. Op sosiale gebied vind hulle interaksie met ander moeilik en hulle sluit nie maklik hegte verhoudings nie.

Stappe om boeliery te bekamp

Hier is ’n paar stappe wat geneem kan word om boeliery hok te slaan:

  • Ouerbetrokkenheid: Ouers moet waaksaam wees en proaktief optree. Hulle moet voortdurend op die uitkyk wees vir tekens van boeliery (kyk AfriForum se Teenboeliegids vir meer inligting. Baie ouers kom te laat eers agter dat hul kind ’n slagoffer van afknouery in die skoolomgewing is. Kinders wil nie altyd vir hul ouers vertel dat hulle afgeknou word nie uit vrees vir wat die boelie aan hulle sal doen as hulle uitpraat of omdat hulle skaam of verleë is daaroor. Daar kan baie redes wees waarom kinders nie vir hul ouers wil vertel dat hulle afgeknou word nie, daarom is dit die ouers se verantwoordelikheid om ’n oog (en ’n oor) oor hul kinders te hou. Hou jou oë en ore oop!
  • Oop kommunikasie: Skep ’n veilige ruimte by die huis en in die skool waar kinders gemaklik voel om hul bekommernisse oor of ervaring van boeliery openlik te deel. In sommige gevalle het boeliery al tot selfdood gelei. AfriForum het in 2022 besluit om ’n film, Die Val, vry te stel wat handel oor boeliery oor die algemeen, maar veral kuberboeliery, en selfdood. Besoek gerus www.afriforumtv.co.za om die film gratis te kyk.
  • Bewusmaking en opvoeding: Huishoudings, skole en gemeenskappe dra by tot die opvoeding van kinders. Kinders moet bewus gemaak word van boeliery en die gevolge daarvan asook van die belangrikheid van empatie en vriendelikheid. Teenboelieprogramme of veldtogte kan effektiewe hulpmiddels wees om bewusmaking te bevorder.
  • Ondersteuningskanale: Maak seker dat kinders toegang het tot beraders of jeugwerkers wat die nodige leiding en ondersteuning kan bied.
  • Digitale veiligheid en verantwoordelikheid: Boeliegedrag het eens net by die skool of agter die fietsloods plaasgevind, maar die samelewing het baie verander, veral tegnologies. Boeliegedrag verander net so konstant soos die wêreld; dit vind nou selfs op digitale toestelle en oor die internet plaas. Dit is noodsaaklik om kinders te leer van aanlyn veiligheid en verantwoordelike digitale gedrag. Laai gerus AfriForum se Kuberboeliegids af vir meer inligting oor hoe jy jou kind kan veilig hou.
  • Beleidsimplementering: Skole moet duidelike beleide en prosedures gereed hê om boeliery te hanteer. Hulle moet vinnig kan ingryp, die slagoffers ondersteun en sorg dat die boelies ook gehelp word om hul gedrag te verander.

’n Oproep tot aksie!

Nasionale Kinderbeskermingsweek herinner ons daaraan dat die beskerming van ons kinders teen boeliery ’n gesamentlike poging vereis van alle betrokke en verantwoordelike partye. Ouers, onderwysers, skole, gemeenskappe, die regering en gemeenskapsorganisasies moet saamwerk om ’n daadwerklike verskil te maak. Deur empatie, wedersydse erkenning en respek te kweek, moet ons ’n omgewing skep waar elke kind vry, veilig en voorspoedig kan leef. Laat ons hierdie week gebruik om ’n verskil te maak, om seker te maak elke kind kan vreesloos leef en floreer. Saam kan ons iets aan boeliery doen en ’n betekenisvolle verskil maak in die lewens van kinders regoor die wêreld.

Op 6 Junie 2024 van 15:00 tot 16:30 bied AfriForum, in samewerking met die Skoleondersteuningsentrum (SOS) en Solidariteit Helpende Hand, ’n gratis webinaar oor kuberboeliery aan vir onderwysers en ouers. Skandeer die QR-kode op die onderstaande e-kaart of volg die skakel om te registreer.

Besoek gerus www.teenboelie.co.za vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog.

Soortgelyke plasings