|

Verdagte loop hom vas teen AfriForum se Brits-buurtwag

Die AfriForum-buurtwag in Brits het op Vrydag 17 Mei ’n verdagte aangekeer wat in besit was van houers waarin ligte verpak word wat vermoedelik by die Madibeng-magasyn gesteel is. Dit volg nadat dié buurtwag omstreeks 22:30 tydens ’n patrollie ’n verdagte op die Sonop-pad, oorkant die Madibeng-magasyn, opgemerk het. Die verdagte het ’n sak by hom gedra en probeer om die buurtwaglede te ontwyk. Die lede het die verdagte aangekeer en deursoek en die vermeende gesteelde goedere in die sak gevind.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en Madibeng-sekuriteit is onmiddellik ontbied. Verskeie veiligheidsinstansies, waaronder Aequitas Security Solutions en Protego, het op die toneel gehelp.

Die verdagte is aan die SAPD oorhandig en in hegtenis geneem.

Hierdie insident beklemtoon die waarde van samewerking en waaksaamheid in gemeenskappe.

“Dit is noodsaaklik om waaksaam te wees en op die uitkyk te wees vir gevare in ons gemeenskap. Deur vinnig op te tree, kan ons potensiële misdade voorkom. Verdagte aktiwiteite moet altyd ernstig opgeneem word om almal se veiligheid te verseker,” sê Johan de Klerk, leier van AfriForum se Brits-buurtwag.

Volgens Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico, speel buurtwagte veral ’n sleutelrol in die voorkoming van misdaad en die bevordering van veiligheid. “Hulle verhoog sigbaarheid en paraatheid in ons gemeenskappe.”

Die AfriForum-buurtwag in Brits bedank alle rolspelers wat tot die suksesvolle inhegtenisneming gelei het.

Om by AfriForum se Brits-buurtwag betrokke te raak, skakel De Klerk by 082 415 0987.

Soortgelyke plasings