|

AfriForum gereed om NGV op alle vlakke te beveg

Die burgerregteorganisasie AfriForum het die parlement se besluit om die nuwe wetsontwerp oor Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te aanvaar, ten sterkste veroordeel. Dié organisasie het ook reeds ʼn span van die land se top regskenners, ekonome en mediese kenners saamgeroep om die wetgewing op alle moontlike vlakke teen te staan.

Volgens AfriForum is NGV net nóg een van die lugkastele wat die ANC-regering gebou het met die doel om stemme te werf vir volgende jaar se nasionale verkiesing.

Die huidige openbare gesondheidstelsel is besig om aan sy ANC toegediende wonde te beswyk, tog wil die regering nou alle landsburgers dwing om nog verder afhanklik te raak van die staat met hul kultuur van wanbestuur.

Die resultaat gaan wees dat medici die land verlaat, pasiënte sterf en kaders verder verryk word deur korrupte mediese kontrakte.

“Mense het gedink beurtkrag is erg maar hierdie beleid gaan lei tot beurt-gesondheidsorg,” sê Jacques Broodryk, woordvoerder vir AfriForum.

“Boonop is daar geen manier hoe die reeds oorbelasde belastingbetaler die staat se nuwe pypdroom gaan kan finansier nie. Dink jy vir een oomblik die parlementslede wat die wetgewing deurgevoer het gebruik staatshospitale wanneer hulle siek is? Nee, hulle gebruik top privaat hospitale of reis selfs oorsee vir mediese behandeling, ” sluit Broodryk af.

Soortgelyke plasings