|

Vermeende moordenaar van Isabel van Coller eindelik vervolg ná AfriForum ingryp

Die saak teen die beskuldigde in die moord op Isabel van Coller twee jaar gelede is in die Johannesburgse Landdroshof uitgestel na 17 Januarie 2022 vir die opsporing van ’n medeverdagte. Die saak sal dan oorgeplaas word na die Suid-Gautengse Hooggeregshof in Johannesburg vir verhoor. Die beskuldigde wat vanuit beeldmateriaal van die kaping blyk die skoot af te gevuur en in Van Coller se kar weggejaag het, staan tereg op klagtes van moord en roof met verswarende omstandighede. Dit volg nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid ingegryp het namens Harriet Ackerman, Van Coller se tweelingsuster en ’n senior aanklaer by die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), omdat sy geen sinvolle terugvoer oor die vordering van die saak ontvang het nie.

Die privaatvervolgingseenheid het in Mei vanjaar vertoë gerig aan adv. Masenyani Andrew Chauke, die Direkteur van Openbare Vervolging in Suid-Gauteng (DOV). Volgens die DOV is die saak aanvanklik teruggetrek weens ’n gebrek aan bewyse. Ná AfriForum se vertoë het die NVG egter te kenne gegee dat hulle twee van die verdagtes wat na bewering betrokke was by die kaping, kon opspoor en dat een persoon nou ’n staatsgetuie is kragtens artikel 204 van die Strafproseswet 51 van 1977 in die saak teen die vermeende moordenaar. Die ander verdagte is nog soek.

Van Coller is op die oggend van 15 November 2019 tydens ’n kaping in Bramley, Johannesburg doodgeskiet. Verdagtes is kort daarna met Van Coller se selfoon in hulle besit gearresteer. Geen klagtes is egter teen hierdie persone ingestel nie en Ackerman is ingelig dat hulle nie met die kaping verbind kon word nie. In Maart 2020 het die staat Ackerman ingelig dat ander verdagtes gearresteer is wat bekentenisse gemaak het, asook dat die saak in die hooggeregshof vervolg sou word. Daarna het die NVG egter besluit om nié vervolging in te stel nie en dat ’n formele geregtelike doodsondersoek (GDO) sou volg – geen van hierdie besluite, of die datum van die beplande GDO, is aan Ackerman gekommunikeer nie. Die aanklaer in die saak het bloot op ’n navraag van Ackerman geantwoord dat hy nie die saak kan onthou nie en in die kantoorlêer sou moes kyk.

Die NVG het AfriForum ook vroeër vanjaar in kennis gestel dat die dossier in die landdroshof vermis geraak het. Die polisie moes die dossier rekonstrueer voordat die verdagtes uiteindelik aangekla kon word.

“Ons verwelkom die vervolging van die vermeende moordenaar, maar dit is betreurenswaardig dat die saak aanvanklik onttrek is sonder dat enige konsultasie met die slagoffer se naasbestaandes gedoen is, des te meer omdat die slagoffer se suster vir die NVG werk. Die samelewing het die reg om bekwame, rasionele en redelike optrede van die NVG te verwag. Die lakse optrede van die aanklaer in hierdie saak sou daartoe gelei het dat niemand ooit vir die dood van Van Coller vervolg sou geword het as die privaatvervolgingseenheid nie toegetree het nie,” sê Natasha Venter, adviseur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Volgens Venter is hierdie ’n verdere voorbeeld waar die NVG probeer het om die proses van GDO’s te misbruik om hul verantwoordelikheid om te vervolg ontduik deur te skuil agter die besluite van ’n landdros. “Dit is tog duidelik dat ’n vervolging vanuit die staanspoor in hierdie saak moontlik en noodsaaklik was.”

Soortgelyke plasings