|

Nuuskommentaar: Vroue moet hulself beter bemagtig teen geweld

Terwyl die internasionale veldtog, 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders van 25 November tot 10 Desember gehou word, is pres. Cyril Ramaphosa met goeie rede diep bekommerd oor die huidige lot van vroue en kinders in die land.

Vroue en kinders is eenvoudig nie veilig nie en elke dag aan die wreedste geweld, verkragting en mishandeling blootgestel. Dikwels aan die hand van mense wat die naaste aan hulle is en veronderstel is om hulle te beskerm en te beveilig.

Amptelike statistieke toon boonop dat al hoe meer vroue en kinders in Suid-Afrika vermoor en seksueel aangerand word. Van die 20 266 moorde in 2017/2018 was 2 930 vroue en 985 kinders. Dit beteken dat daar elke dag gemiddeld 57 mense, van wie agt vroue en twee kinders, vermoor word.

In die afgelope twee maande het ten minste drie grumoorde op vroue die voorblaaie van koerante gehaal.

In Oktober is ds. Liezel de Jager van die NG Suidkus-gemeente in Amanzimtoti vermoor nadat sy van ’n oggenddrafsessie by die pastorie aangekom het.

Hoe moeilik dit ook al is om uit ’n gewelddadige verhouding te stap, moet vroue eerder hulp soek of vlug voordat dit te laat is.

Volgens die lykskouing wat gedoen is, is sy verwurg. ’n Gebuigde metaalgrafie is naby haar lyk in die pastorietuin gekry.

Haar man het kort na haar dood skielik verdwyn en haar ouers het haar twee kinders kom haal en na Bloemfontein geneem waar hulle woon. De Jager se pa het intussen skokonthullings oor sy skoonseun in ’n hofaansoek gemaak. Hy is intussen gevind en in ’n hospitaal opgeneem.

Angelique Fourie (27) is vroeër vandeesmaand voor haar 3-jarige dogtertjie vermoor. Haar liggaam is in ’n plas bloed in haar huis in die Terra Nova-kompleks in Trichardt, Mpumalanga, gevind.

Haar voormalige kêrel, Christopher (Stoffie) Watson, het hom kort na die voorval aan die polisie oorgegee.

Vicky Terblanche van Gqeberha (Port Elizabeth) se lyk is ook in Oktober in ’n vlak graf op ’n kleinhoewe in dié stad gevind. Sy is na bewering gesleep en verwurg.

Reinhardt Leach, Terblanche se huidige kêrel, ene Dylan Cullis, én Arnold Terblanche, Vicky se vervreemde man, is vir haar moord in hegtenis geneem en het reeds in die hof verskyn.

Vroue moet hulself emosioneel meer weerbaar maak en netwerke vorm om mekaar te ondersteun. Foto: Unsplash

’n Ewe groot tragedie as dié tragiese dood van hierdie vroue, is die feit dat politici, die polisie en amptenare gereeld vinnig is om die geweld te veroordeel, maar niks verander ten goede nie.

Die werklikheid is dat hierdie geweld nie hokgeslaan sal word alvorens die regering én die burgerlike samelewing dringend en daadwerklik ingryp nie.

Die pleidooie van vroue wat gereeld aangerand en mishandel word, kan nie op dowe ore bly val nie. Die polisie moet spesiaal aandag aan die voorkoms van gesinsgeweld gee en oortreders moenie met sagte handjies behandel of net gewaarsku word nie.

Vroue het egter ook ’n plig om na hulself en hul kinders om te sien. Hoe moeilik dit ook al is om uit ’n gewelddadige verhouding te stap, moet vroue eerder hulp soek of vlug voordat dit te laat is.

Vroue moet hulself ook bemagtig en, as dit nodig is, selfs selfverdedigingsklasse bywoon sodat hulle hulself tydens aanvalle kan beskerm. Vroue moet hulself ook emosioneel meer weerbaar maak en netwerke vorm om mekaar te ondersteun. Vroue moet besef dat hulle net hulself uit die kloue van ’n vroueslaner kan bevry.

Te veel kinders moet deesdae sonder ’n ma grootword. Dit is ’n reuse-aanklag teen elke individu en gemeenskap, wat dikwels bewus is van hierdie booshede, maar verkies om eerder weg te kyk en nie betrokke te raak nie.

Soortgelyke plasings