|

AFRIFORUM SE POTGIETERSRUS-BUURTWAG HOU SIGBAARHEIDSAKSIE

Die AfriForum-buurtwag in Potgietersrus het op 3 Maart gedurende die aand ’n voetpatrollie deur die dorp onderneem. Die doel van dié patrollie was om die buurtwag se sigbaarheid te verhoog om misdaad te voorkom en verhoudings met lede van die gemeenskap te bou.

Die buurtwag het onder meer inwoners gekontak wat hulle voertuig se deur oop vergeet het.

“Buurtwagte het ten doel om misdaad te voorkom. Dit is wêreldwyd standaardpraktyk vir wetstoepassers om hulleself sigbaar en identifiseerbaar te maak en deurlopend per voet of fiets deur gemeenskappe te beweeg. Dieselfde beginsel geld vir buurtwagte. AfriForum se Potgietersrus-buurtwag, in ’n ondersteunende rol aan die SAPD, het tydens die patrollie hoë sigbaarheid te voet gehandhaaf. Op dié manier kon hulle nie slegs met groter gemak met die gemeenskap skakel of misdadigers ontmoedig nie, maar ook die voetpaadjies en wegkruiphoekies beter ïdentifiseer. Hulle kon hoor waar blaf die honde en hulle kon sien watter straatligte is af,” sê Andries Opperman, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir Limpopo.

Philip Bower, leier van AfriForum se Potgietersrus-buurtwag, moedig die gemeenskap aan om met die buurtwag te skakel. “Ons noodnommer is 064 004 7609. Die buurtwag wil graag die gemeenskap help, want ons ís die gemeenskap. Ons doen dit vir ons bejaarde ouers, ons kinders, vriende en bure. Elke tree wat ons gee, gee ons met die wete dat dit vir ons ’n toekoms vestig in Potgietersrus.”

Om betrokke te raak by die AfriForum-tak in Potgietersrus, laai die Telegram-toep af en soek vir @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot).

Soortgelyke plasings