|

Vrou genoeg om ook na my eie veiligheid om te sien

Lýk soos ’n maklike teiken sonder om ’n maklike teiken te wéés.

Dít is wat ek tydens ’n onlangse gespesialiseerde veiligheidskursus geleer het. Dié AfriForum-kursus, bekend as protospanopleiding, is gemik op die verdere opleiding van die organisasie se buurtwaglede, maar het ook tientalle kritieke lesse aan my gebied.

Vroue word dikwels as maklike teikens beskou. Gestel jy en jou man word die slagoffers van ’n gewapende huisroof waartydens jou man vasgebind word en jy as vrou moet die kluis vir die booswigte oopsluit. Gaan jy weet hoe om op te tree om jou gesin veilig te hou? Weet jy hoe om ’n wapen te hanteer?

Suid-Afrika se misdaadvlakke het die afgelope jare ongekende hoogtes bereik en dit het tyd geword dat vroue hulself met kennis en vaardighede moet toerus sodat hulle hulself en hul gesinne kan beskerm.

Alhoewel ek gelukkig nog nie ’n slagoffer van geweldsmisdaad was nie, het ek besluit om myself te bemagtig. Ek het die geleentheid aangegryp om aan AfriForum se twaalfde protospankursus deel te neem juis omdat ek besef het dat dit tyd geword het dat meer vroue leer hoe om na hul eie veiligheid om te sien.

Tydens dié kursus het ons vroegoggend met praktiese opleiding begin. Ons is geleer hoe om mesaanvalle af te weer, ’n handwapen af te vat wanneer dit op jou gerig word en die misdadiger naby jou is. Ons het ook geleer hoe om burgerlike arrestasies uit te voer en ’n persoon te deursoek vir wapens.

Ons het verder heelwat teoretiese sessies gehad waartydens jy leer hoe om jouself binne die raamwerk van die wet te beveilig, wanneer jy uit noodweer (daar word dikwels verkeerdelik na selfverdediging verwys) mag optree en wanneer jy mag skiet en wanneer nie. Ons is gewys op die belangrikheid van sorgvuldige hantering van inligting in ons daaglikse doen en late. Dan eers besef ’n mens hoe maklik (en dikwels baie onskuldig) jy inligting aan booswigte verskaf.

Alhoewel sekere aspekte van die opleiding meer op buurtwagte gemik is, weet ek nou waarom dit nodig én belangrik is om ’n gebeurlikheidsplan te hê. Jy, jou man en kinders moet presies weet wat elkeen tydens ’n noodsituasie moet doen en daarom is voorafbeplanning en die inoefening van daardie plan uiters nodig.

Op dag drie van die opleiding is ons skietbaan toe waar ons verskeie tegnieke aangeleer het en ons skietvaardighede verbeter het. Daar het ons onder die streng oë van die instrukteurs op verskeie maniere na teikens geskiet en saam met ’n spanmaat hierdie vaardighede opgeskerp.

Alhoewel ek nou meer gerus is omdat ek hierdie opleiding ondergaan het, besef ek ook dat veiligheidsopleiding nie ’n eenmalige gebeurtenis is nie. Hierdie vaardighede en tegnieke gaan gereeld ingeoefen en opgeskerp moet word sodat dit natuurlik kom wanneer dit eendag nodig is om myself teen ’n misdadiger te beskerm.

Daarom wil ek elke vrou (en man) aanmoedig om sulke opleiding te ondergaan en om by hul naaste buurtwag en veiligheidstrukture betrokke te raak. Leer hoe om jouself te beskerm en te beveilig – selfs al besit jy nie ’n vuurwapen nie – en wees altyd bewus van wat om jou aangaan.

Dit het tyd geword dat vroue ook, soos baie mans, hul veiligheid in hul eie hande neem en weet hoe om hulself en hul gesinne te beskerm. Onthou, as jy weet hoe om jouself te beskerm, kan jy ook die mense om jou beskerm.

Soortgelyke plasings