|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek skokkende syfers bekendgemaak oor plaasaanvalle en oor die waterkrisis in die land terwyl die takke voortgegaan het om toe te tree waar munisipaliteite hul plig versuim.

Die organisasie se jaarlikse blou-en-groendruppelverslag is by ’n stukkende pompstasie in Vereeniging bekendgestel. Luidens hierdie verslag het slegs 19% van die 140 rioolafvalwaterbehandelingswerke (RAWBW’e) wat vanjaar getoets is aan die minimum standaarde voldoen. Dit het tot gevolg dat die water wat RAWBW’e in riviere stort nie voldoende behandel is nie wat weer ’n direkte invloed het op die gehalte van drinkwater wanneer watersuiweringsaanlegte nie korrek bestuur word nie.

Volgens syfers wat AfriForum se gemeenskapsveiligheidsafdeling byhou het die aantal plaasaanvalle vir die derde kwartaal met 21% gestyg teenoor die tweede kwartaal. Van Julie tot September 2023 is 88 plaasaanvalle, waaronder 13 plaasmoorde, aangeteken.

AfriForum en die kantoor van iNkosi Zwelothando Mabandla het saamgewerk om die kulturele identiteit van die AmaBhele KaJamangile tradisionele gemeenskap te bevorder deur verwelkomings- en rigtingwyserborde in dié gemeenskap se gebied tussen Tsolo en Maclear (Nqanqarhu) in die Oos-Kaap op te rig.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig nog vier slagoffers in sake van onder meer roof, ontvoering, asook aanranding teen beamptes van die Tshwane Metropolisie. Dié beamptes is geskors en word ook intern ondersoek.

Die eenheid tree ook ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag op in ’n saak waar Conrad Pretorius ’n beskuldigde in strafregtelike saak is wat verband hou met ’n voorval waartydens hy na bewering deur ’n waarnemende regter en praktiserende advokaat in die nek en been gesteek is. Pretorius het vandeesweek ’n skadevergoedingseis by die Hooggeregshof in Pretoria ingedien.

Die privaatvervolgingseenheid tree ook ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag op namens Riana Stander in ’n crimen injuria-saak teen ’n senior polisie-offisier wat vir sewe jaar gesloer het. Genl.maj. Sandra Malebe-Thema staan tereg op sewe klagte van crimen injuria nadat sy na bewering verskeie wit polisiebeamptes by die Oudtshoorn Polisieakademie verneder en hulle menswaardigheid aangetas het.

AfriForum se takke in die Noord-Kaap het ’n dringende vergadering met die Noord-Kaapse Departement van Paaie en Openbare Werke versoek oor die toestand van die paaie in dié provinsie. Die agteruitgang van die paaie lei tot ekonomiese agteruitgang en is ’n veiligheidsrisiko vir sowel inwoners as toeriste.

Die Walker Drive-buurtwag in Gqeberha het ’n koperkabeldief op heterdaad betrap, in hegtenis geneem en aan die polisie oorhandig. Die AfriForum-buurtwag in Keimoes het ook verskeie suksesse behaal en het onder meer koperkabeldiewe vasgetrek, gehelp om ’n vermiste persoon op te spoor en beslag gelê op gevaarlike wapens en gesteelde eiendom.

AfriForum se Kraaifontein-tak het ’n ingang tot die gebied opgeknap en endemiese plante en bome geplant terwyl die Durbanville-tak ingegryp het om die vervalle skaatspark op te ruim.

Soortgelyke plasings