|

Vrou met lepel verkrag – NVG ignoreer bewyse om man hiervoor aan te kla 

Ten spyte van bewerings wat onder eed gemaak is en foto’s wat wys hoe ’n vrou met ’n lepel verkrag word, het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nog nie die beskuldigde van verkragting aangekla nie. Voorts ignoreer aanklaers by die Pretoria-Noord-landdroshof die versoek van AfriForum se privaatvervolgingseenheid dat hierdie saak na die streekhof oorgeplaas moet word en dat die man aangekla moet word van hierdie ernstige seksuele oortreding.

Felicia Mkondo, die klaagster in hierdie saak wat ingestem het om identifiseer te word, het AfriForum se privaatvervolgingseenheid genader ná die aanklaer in hierdie saak, haar na bewering sleg behandel het, haar aan sekondêre trauma blootgestel het en onder wie se toesig daar belangrike bewyse uit die dossier verdwyn het. Die beskuldigde, wat nie identifiseer word nie aangesien hy nog nie gepleit het nie, het Donderdag in die hof verskyn.

Hoewel klagtes van aanranding met die doel om ernstig te beseer en seksuele teistering hom in die gesig staar, het die privaatvervolgingseenheid al twee keer skrywes aan die senior staatsaanklaer gerig om te argumenteer dat verkragting ook bygevoeg moet word aangesien daar meer as genoeg bewyse is om dié klag te staaf. Beide briewe is onbeantwoord gelaat en daarom is twee hardekopieë van die briewe Donderdagoggend by die hof aan die aanklaer oorhandig.

Die oortredings het tussen Februarie 2020 en Desember 2022 plaasgevind terwyl die klaagster en beskuldigde in ’n romantiese verhouding was. Die privaatvervolgingseenheid het in ’n skrywe aan die NVG gesê dat die beskuldigde die klaagster in hierdie tyd na bewering onderwerp het aan fisieke en seksuele geweld. Dit sluit onder meer na bewering in om ’n eetlepel by haar private dele in te steek wat tot geweldige bloeding gelei het terwyl sy hoog swanger was. Voorts het hy haar ook na bewering geklap, geslaan, gewurg en haar teen mure vasgegooi.

Mkondo sê die NVG het nie haar saak ernstig opgeneem nie. “Ek was seksueel en fisiek mishandel. Ek het foto’s gehad, ek het bewyse, maar elke dag as ek hof toe gekom het dan is die bewyse nie daar nie. Die kritieke foto’s was elke keer weg.”

“AfriForum kommunikeer met my, hulle vra hoe ek voel. Ek dink my geestesgesondheid is eintlik nou goed – ek slaap soos ’n baba. Die manier waarop AfriForum my behandel, my bel en my op hoogte hou van my saak is hoe ek verwag het die hof my gaan hanteer, maar die hof het my op die teenoorgestelde wyse hanteer,” sê Mkondo.

Shamila Batohi, die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings, het in April vanjaar gesê dat geslagsgebaseerde geweld die ernstigste kwessie ten opsigte van vroue se menseregte is wat die regering en samelewing saam moet oplos en dat die verkragting van vroue en moord op vroue ’n gebrek aan menslikheid in die samelewing reflekteer.

Volgens Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, laat die NVG vroulike slagoffers van misdaad in die steek. “Die wyse waarop slagoffers deur aanklaers behandel word is ver verwyderd van die hewige beloftes wat deur die NVG-leierskap gemaak word, mense wat geen benul het van die werklikhede wat in die howe ervaar word nie. So lank as wat aanklaers versuim om met klaagsters te kommunikeer, hulle met minagting behandel, en hulle behoeftes ignoreer, sal misdadigers op vrye voet bly. Die privaatvervolgingseenheid sal voortgaan om slagoffers van geslagsgebaseerde geweld te help en te verseker dat aanklaers hulle werk doen.”

Die saak is tot 1 Augustus vir verhoor uitgestel, die privaatvervolgingseenheid sal egter verdere vertoë aan die NVG rig om te verseker dat die beskuldigde ook van verkragting aangekla word.

Soortgelyke plasings