|

Vryheid-buurtwag bied vuurwapenopleiding aan gemeenskap

Die AfriForum-buurtwag in Vryheid het in Augustus 41 lede van die gemeenskap opgelei in vuurwapenhantering. Hierdie opleiding vorm deel van die buurtwag se opleidingsprogram om die gemeenskapslede te bemagtig en deurgaans hul bevoegdheid te verbeter ten einde meer doeltreffend teen misdaad op te tree.

“Ons is dankbaar dat soveel lede deelgeneem het aan hierdie opleiding. Ons het al verskeie ander lesings aangebied wat onder meer verband hou met toneelhantering, radiospraakprosedure en wetlike aspekte. Daar sal binnekort verdere opleiding aangebied word,” sê Henry Pretorius, AfriForum se buurtwagleier in Vryheid.

“Veiligheid is ’n belangrike komponent van ons takstruktuur en ons nooi graag lede van die gemeenskap om deel te word om sodoende ook baat te vind by die opleiding,” sê André van der Walt, voorsitter van AfriForum se Vryheid-tak.

“Dit is vir ons noodsaaklik dat gemeenskapslede hulself bemagtig in ’n wêreld waar misdaad handuit ruk. AfriForum bied daarom vlak een tot drie kursusse aan wat wissel van basiese opleiding vir patrolleerders tot meer gevorderde opleiding vir protospanlede,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal. 

Kontak vir Hein Schonborn by 082 327 3639 om betrokke te raak by hierdie AfriForum-buurtwag.

Soortgelyke plasings