|

Lesufi speel rassismeslagofferkaart

Panyaza Lesufi, die LUR vir onderwys in Gauteng, voer aan dat AfriForum se veldtog om hom te laat afdank – onder meer weens sy rol in die chaotiese plasingsproses van leerders in Gauteng vir die 2020-skooljaar – rassisties is.

“Al kaart wat Lesufi kan speel is die rassismeslagofferkaart, aangesien die feite duidelik sigbaar is. Lesufi se lang rekord van vergrype en wanprestasie is by David Makhura, premier van Gauteng, se kantoor ingedien, en die rekord is slegs op feite gebaseer,” sê Henk Maree, woordvoerder vir AfriForum.

AfriForum word ook oorval deur oproepe om hulp van sowel Afrikaanse as nie-Afrikaanssprekende ouers. “AfriForum beskerm die reg van ouers en leerders, ongeag hul ras. Elkeen van die ouers het die registrasieproses se instruksies noukeurig gevolg, die probleme wat hulle ervaar is dus nie hulle skuld nie, maar dié van Lesufi en sy personeel,” voeg Maree by.

Sedert AfriForum se aankondiging van die veldtog wat Lesufi se afdanking eis, het Lesufi met die volgende boodskappe op sosiale media gereageer:

  • “… our sin is to take care of all our children so that they can access quality education.”;
  • “… please don’t harm my family, as for me you are free to do as you wish. I know you attempted on various occasions to harm and attack me.”; en
  • “We are proud to build a truly non racial society that recognizes the need to care for the poor, weak and vulnerable at all times.”

“Sy uitlatings bewys net weer dat hy geen verantwoordelikheid neem vir die chaos wat hy veroorsaak nie. Al sy uitlatings is daarop gemik om emosie en simpatie uit te lok. Die feite is dat vele kinders, ongeag ras, toegang sou kon hê tot kwaliteitonderrig indien Lesufi die afgelope jaar die ses skole, asook 60 klaskamers gebou het soos wat van hom verwag was. Hiermee saam kon daar na ’n groot hoeveelheid hulpbehoewende mense omgesien word indien sy departement nie die afgelope finansiële jaar R900 miljoen se onreëlmatige uitgawes aangegaan het nie. Laastens kan Lesufi geen bewyse bied van intimidasie deur AfriForum waarna hy verwys nie, aangesien dit nooit plaasgevind het nie,” sê Maree.

AfriForum moedig steeds die publiek aan om die omvattende veldtog teen Lesufi se vergrype te ondersteun deur ’n petisie wat Lesufi se afdanking eis, te onderteken. Dit kan gedoen word deur die webtuiste www.afriforum.co.za/Lesufimoetval te besoek of jou naam na 32782 (R1) te SMS.

Soortgelyke plasings